-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Bergfontein, die plaas waar ek grootgeword het, is redelik afgeleë. Sowat 20km buite Ellisras/ Lephalale. Ek was tien jaar oud toe ons elektrisiteit gekry het - en televisie.
My vroegste verbeelding is eerder wakker gemaak deur boeke en kontreistories. Visuele prikkels was in die bekende: in die leiklipvloer van die plaashuis het ek verbeelde diere gesien; daar was gesigte in die vlamme; ek het beeldjies uit miershoopklei gemaak; die skil van ‘n ryp mango was die kleur van sonsopkoms. Vanuit die berg het die visarende gekom en die rooijakkalse, ystervarke, koedoes, klipspringers, soms ‘n verdwaalde luiperdspoor. Wanneer die boorgat opdroog, het ons gesin in die Mokolorivier tussen die waterlelies en riete gebad.
Dié landskap het my van kleins af gefassineer, ontroer, woedend gemaak en lief. Oor my Waterbergliefde het ek geskryf vandat ek nege jaar oud was.
Sedert my laerskooljare het ek verse verslind. Op 15 het ek begin om kuns te verkoop en tjieng te spaar sodat ek die weeklange ATKV-Skryfskool aan die Universiteit van Potchefstroom kon bywoon. Ek was drie agtereenvolgende jare daar. Die eerste twee jaar was ek as enigste skoolkind totaal verskrik én verwonderd om regte skrywers soos Antjie Krog in aksie te sien. Gou het ek besef hoe ontsettend baie ek moes leer. So moes ek die fase van stroperige tienerliefdespoësie afskud – iets wat my andersins dalk dekades sou neem.
Deur die eeue dryf liefde (of die afwesigheid van liefde) mense om te skryf. Watter liefdesgedigte my die naaste aan die hart lê? Hordes, honderde. Hiermee fragmente van my mees geliefkoosde liefdesverse in Afrikaans, soos dié van Fanie Olivier:
my lieflingbruinoogvolborsmooilyfmens
ek is so moeg geword vir al die ou
geykte speletjies; selfs die speletjie van die gedig.
hoekom moet dinge altyd netjies wees?
hoekom nie net ouvuilolie gestreep
oor die papier? hoekom so keurig
uitgereken effebewus geformuleer?
hoekom die sweet van liefdemaak verkuis?
want al wat ek wil hê is jy, my vrou,
en jy, ons seun, en warm januarieson;
‘n hond, en nagte daelang in jou lyf
totdat die mure val as ons twee
bessie-bessie speel: totdat ek
hardop om die privaatheid heen
vir almal wat wil hoor én dié wat hulle
daarvoor doof wil hou
kan sê: ek hét jou lief,
só lyk ‘n huis!
‘n Ander gunsteling is die liriese slot van Johan Myburg se “Lied van die bruidegom”:
as jy wakker word, my cala, kan ons beeste
met wye horings uitsoek, kan ons teen die heuwels
landerye beplan; as die dag breek
en die mossies tjilp harder as tevore
ek kom na jou toe met die bergpaadjie langs
my voete vol kleirige grond
jou soet klein in my mond
As tienermeisie skryf Antjie Krog ‘n gedig, “Ek wil” vir John met wie sy vandag nog getroud is. Die aartsonskuldige slotreëls lui:
ek wil so graag iets gee wat jy kan
saamdra
wat by jou sal bly soos ‘n klein warm
akkedissie
eendag as jy oud en allenig in die son sit
Breyten Breytenbach se woorde laat my bloed bruis, veral dié gedeelte uit “inbrand”:
so sal ek jou altyd onthou
so skryf ek dit neer
soos jy nou daar sit in die tuin
met die soenplekke van jou nek na die son
My gunsteling gedig van Louis Esterhuizen kom uit sy bundel “Opslagsomer”:
Kyk, die wind peusel aan sy hare
Kyk, kyk. Hy vang vlinders
in sy mond, hy sing die kleur
van blomme.
Liefde is hier ter sprake.
Ek raai dit is die bekendheid in gedigte wat mens beweeg, die oomblik van herkenning.
Toe ek anderdag hoor dat die liefdesverse uit my tweede digbundel laataand op Radio Sonder Grense voorgelees word, was dit my hoop: dat ’n trokdrywer in die duister verveling van die Moordenaarskaroo of ‘n eensame student met laatnagkoffie in die hand of ‘n slapelose boer-sonder-vrou, dat iemand na my liefdesverse sal luister. En dat die woorde iets in hul binneste sal laat ontvlam.
Amper soos wat die verse van ander digters my hart laat ontvlam het.
0 Comments