-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die laaste ruk voel dit vir my asof al wat leef en beef praat oor die gaafste plek vir kits-emigrasie. Kanada? Australië? Amerika? Singapoer?
Onlangs het die visumkoors my ook oorval - die drang om ‘n agterdeur, ‘n sleutelgat na ‘n ander land te vind. Net vir ingeval… Want al is ek skaamteloos lief vir my land, al het ek grootgeword in die allermooiste Bosveld en al woon ek tans in ‘n paradyslike kuswoud, is ek ook nie besimpeld patrioties nie. Tog kon nie eers Malema Dilemma se rampokkerpraatjies my visumkoors so laat styg soos anderdag se besoek aan Port Elizabeth se eers befaamde pofadders en pikkewyne nie.
In “Op pad in Suid-Afrika” (’n reisboek wat in 1997 gepubliseer is) pronk Port Elizabeth met sy Bayworld wat honderd jaar gelede deur F.W. Fitzsimons gestig is - ‘n slangpark met ‘n duisend spesies waarvan sommiges gereeld vir serum gemelk is. Met ons besoek was daar slegs vyftien slange by die park, dalk minder…
Op dieselfde perseel is die oseanarium waar ‘n skool stompneusdolfyne eens op ‘n tyd die wonderbaarlikste toertjies uitgevoer het – toe ons daar was, was die dolfyne glo weggestuur na Hong Kong om te gaan broei. Glo verkoop omdat die een of ander flierefluiter die beskikbare R500 000 verduister het, skinder ‘n inwoner. Glo opgekap vir sushi.
Glo wat jy wil, sug ek, maar die swembad is vrot van die alge, die pawiljoen leeg en die pikkewyne wat onder ‘n hondehok saambondel, lyk bipolêr. En die Tropiese Huis wat ‘n paar jaar gelede nog die ene eksotiese plante en voëls was? Dié is nou ‘n konferensie-sentrum… Toegegee, die lewensgroot dinosourus wat grom en beweeg is oulik en die seeleeu klap mooi hande. Dit alles saam is nie slegte waarde teen R40 per kaartjie nie. Maar dat Bayworld tot so onlangs as 2006 in Getaway se deksels netjiese “1001 Moet-sien-plekke in Suider Afrika” gelys is, laat my visumkoors styg.
So, waarom emigreer ek nie? Want ek sal te veel verlang. Verlang na skemertyd in die Bosveld en donderstorms in die Drakensberg; na die geur van fynbos op Tafelberg na die reën; na Karoo-lamstjoppies en waterblombredie in die Boland; na stalletjies by kunstefees waar kralewerk, sari’s en velskoene verkwansel word; na sing in kerke, by rugbywedstryde en in busse; na vetkoek en melktert; na geelhout-bosreuse in die Tsitikamma en kremetartbome in die Waterberg; my ma se maroelajellie; na mense wat rommel kan omskep in Kersfeesengeltjies en deurmatte en draadfietse.
Want ná alles is ek in Suid-Afrika vir die mense. Ook mý mense wat grap en huil en troos en bid en stry en skep in my taal. En ek is hier vir die ruimte – die ewige gebergtes. Wie kan die berge plat maak? Wie kan die mense stom maak? So lank ons hardop lag en roep, sal die kranse antwoord gee.
0 Comments