-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Servaas kom met sy lang lyf om die hoek gestap en sonder om te groet val hy in die stoel op die stoep.
Ek gee hom net kans om lekker in die stoel weg te sak: “Nou toe, vir wat lyk jy al weer asof jy die lewe te ernstig opneem. Jy sal tog nie lewendig daaruit kom nie.”
Hy gluur my openlik aan: “Nee man. Dis net ongeskikte mense wat my so dwars in die krop steek. Hulle laat my behoorlik bloed sien.”
Toe laat waai ek met ’n stukkie wysheid: “Die lewe is nie regverdig nie – raak gewoond daaraan.”
Hy snork skuins weg: “Jy het nie ervaar wat ek nou die dag moes deurwerk nie. Dit maak my nou nog beswaard as ek net daaraan dink.”
Ek kan sien hy is nie lekker nie, maar tog bars hy om my te vertel: “Nou laat ek hoor wie of wat het nou weer aan jou kom krap waar dit nie jeuk nie.”
Dis net waarop hy gewag het: “Nou goed. Jy weet mos in die willetuin se kampe kry jy sulke losstaande kombuise waar mens kan skottelgoed was, ’n ietsie op ’n elektriese plaat kan gaarmaak en ook ’n klein, so 5-liter, geiser waar jy kookwater kan kry.”
Ek knik net instemmend en hy stoom voort: “Nou ja, ek dink weer vanmôre aan die ander dag toe ek en my aller-pragtigste laas in een so kamp was en ek toe die spesifieke môre kombuis te stap met my warmwaterfles om vir ons bietjie kookwater te loop haal.
“Ek kom toe by die kombuis aan en sien die water in die geiser is nie reg nie. Die geiser het so rooi en groen liggie. Brand die groene is die water koud. Brand die rooie is dit reg en kan jy tap. Toe ek daar kom, is die groen liggie aan en ek sit my fles langs die geiser neer. Ek draai sy prop af en leun toe sommer so met my rug teen die wasbak daarnaas terwyl ek wag vir die rooi liggie om aan te gaan.
“Terwyl ek so staan en wag, kom ’n mede kampeerder daar aan om skottelgoed te was. Die man is toe ewe vriendelik en terwyl hy sy skottelgoed uitpak en dinge regkry vir die groot was, begin ek en hy gesels.
“Maar ek sien nooit die vroumens wat van die ander kant aangestap kom nie. Die eerste wat ek van haar bewus is, is toe ek hoor iemand karring hier agter my by die geiser. Ek draai om en daar staan hierdie blink figuurtjie van kop tot tone in pers geklee. Sy lyk soos ‘n vroeë lenteblom wat skitter in die son.
“Ek staan haar nog so en aangaap, toe druk sy ewe saggies my warmwaterfles uit die pad, druk hare onder die kraantjie in en begin dit doodluiters volmaak.
“Ek onthou ek het nog gesien die rooi liggie is aan, maar ek gaap soos ’n vis op droë grond oor die astrantheid van die pers een.
“Ek staan nog en dink wat om te sê, toe is haar fles vol en die rooi liggie is morsdood gevrek en die groene brand.
“Sy draai haar fles se prop op, glimlag na my kant toe sê: ‘Have a nice day!’ Ek tog en paas uit!”
Ek proes van die lag: “Ja, sy was weer heeltemal te mooi vir jou en daarom kon jy nie woorde kry om haar aan te vat nie.”
Servaas glimlag verleë: “Daaroor praat ons mos nie.”
0 Comments