<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Dit kamp sommer so op jou drumpel

 
Rubrieke / Columns : 24 Apr 2015 134 Viewed By Melt van der Spuy 0

Ons drie professionele afgetredenes sit nou die dag op my stoep en niks doen nie, toe Herman een van sy beroemde swaar sugte laat val.
Ek loer na hom toe: “Waar kom daai sug nou weer vandag vandaan.” Servaas het half aan die slaap gesit met sy lang bene voor hom uitgestrek, maar die sug het hom skoon wakker. Hy draai sy kop na Herman toe:
“As jy een van daai aandag trek sugte van jou los, dan wil jy iets sê. Wat pla ou maat?” Herman skuif hom half regop en roer sy skouers:
“Het ek julle al vertel toe ek en ma ons goed gepak en padgegee uit ’n karavaanpark uit?” Ons ken nie die storie nie en ek en Servaas skud albei ons koppe ontkennend.
“Nou laat ek julle vertel. Ons het al te lekker vir ’n week by die vakansieoord gaan kamp en omdat dit in die week was, was daar min ander kampeerders. Ek en ma het lekker op ons eie stukkie grond gestaan.
“Hier teen Donderdagmiddag kom een van daardie groot 4x4’s met ’n splinternuwe ingevoerde karavaan aan sy haak die pad in ons rigting aangewieg. Net die manier waarop die man aankom, laat my frons en ek sê vir ma, daai man lyk tog al te grand met sy ingevoerde wa.
“Die knaap kruie nog so rustig aan toe hy skielik links draai en op die plek direk langs ons kom stilhou. Nie ’n watwonderse plek nie, want daar is nie ’n beduidenis van gras of koelte nie.
“Grand man dink egter dis sy stukkie hemel. Hy trek daai ellelange karavaan in en begin die ding regstoot. So met sy regstoot kom hy al nader aan ons en toe ek weer sien, staan sy disselboom presies ’n handbreedte van my karavaan af. Dit terwyl die deel aan die agterkant van die wa tot by sy staanplek se grens seker nog 4m is.”
“Die knaap slaan toe sy afdak op en pak sy stoele uit. Dit alles binne aanraak afstand van ons af.
“Ek en ma sit nog en suutjies praat oor die grand man se vermetelheid om bo-op ons te kom staan, toe trek buurman nommer twee aan ons ander kant in. Eintlik moet ek sê, buurmanne, want daar klim so baie jongmense uit sy kar uit ek dog die skool kom uit. Dit lag, jil en hol terwyl jy net pale, seile en stoele sien waai.
“Op ons staanplek, reg voor ons, is ’n lekker koelteboom en die volgende oomblik kom plak die ‘skool’ langsaan al hulle stoele en sommer ’n opvoutafel ook daar neer. Bokse vol kos word aangedra, uitgepak en die spulletjie val weg. Dit alles nie verder as drie meter van ons af nie.
“Ek sien hier kom moeilikheid, maar ek dink nog wat om te doen, toe voel ek skielik my bene word nat. Ek dog ek het ’n blaasprobleem en vlieg op. Dis toe wat ek sien grand man het sy tuinslang uit en hy is besig om sy hele staanplek en sommer so stuk van myne ook, nat te spuit. Dis nou vir die stof sien.”
Herman glimlag so effe: “Maters, ek en ma gee mekaar net eek kyk, toe weet ons. Hier staan ons nie langer nie. Dit was nie ’n halfuur nie, toe is die staanplek tussen die ‘skool’ en grand man leeg en ek en ma op pad huis toe.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube