<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Hoe om 'n perd te oorwin

 
Rubrieke / Columns : 21 May 2015 2388 Viewed By NoordNuus reporter 0

Die man wat met sy styf geklemde kake die bloue see in getuur het, sy perd onverskrokke en dapper die kolkende dieptes in gedwing het. Ek weet nie hoeveel mense hy, te perd, uit die see gered het voor hy en sy perd die stryd teen die onstuimige oseaan verloor het nie. ‘n Water dood, vir die eerste twee opgetekende helde van SA.
As kind het die storie my met met vurigheid aangespoor, om ook ‘n perd te kry, om ook mense van skepe af te red, dalk 'n paar hulpelose dames ook.
 Ek het net een probleem gehad. Ek het nog nooit ‘n perd bestyg nie. Ek het nie geweet hoe lyk die see nie. Ek het darem al op die walle van die Mogolrivier gestaan. 
Op 'n dag in graad 2, het ek vir my ‘n netjies riet gepluk, op die oewer van die Mogol, en hom Vonk gedoop. My eerste perd, ek het wydsbeen oor my rietperd geklim, en met geklemde kake die bruin stroompie van die Mogol in gestaar. Net voor ek vir Vonk die bevel kon gee om die kniediep waters in te waad, het die vrees vir krokodille my oorweldig. Een ding het egter bly vasskop in my - die brandende begeerte om 'n perd te hê.
Twee jaar later, as graad 4 seun, het my droom waar geword. My oupa en my pa het dit goed gedink om vir my ‘n perd te kry, en was sy nie pragtig nie. Sy was 11 maande oud, haar naam was Prinses, so donker bruin merrie. Ek wou net begin perd ry. My oupa het gemaan, dat die perd nog te jonk is om gery te word. Ek moes haar in elk geval eers  inbreek, voor ek net kon klim en ry.
Nodeloos om te noem, ek myself kon nog nie ‘n perd gesit het nie.
Twee jaar later, toe Prinses reg was om gery te word, was almal daar. My pa, ma, susters en my oupa, en ouma en twee neefs.
Nou kyk, ek kom uit ‘n familie wat bees boer, vra hulle enige iets oor ‘n bees en hulle sal jou kan sê, wat die veearts jou sou laat voor betaal het. Probleem is, perde kenners was hulle nie.
 Dit het uit die staanspoor geblyk, dat my oupa die meeste kennis oor perde het. So almal het soos biltong teen die kraal gehang, en alles wat my oupa gesê het beaam.
So daar het ek met kakie broekie en kaal beentjies gestaan, met Prinses aan ‘n lei riem. Dit was volgens oupa maklik, jy spring op en klou tot jy afval. 
Ek het die klomp oningeligte perde kenners een kyk gegee, en geweet, ek  moet op klim en klou tot ek val. 
Na ‘n ewige gespook het ek bo op prinses se rug beland. Styf gespan soos ‘n snaar het ek daar gesit. Met  groot oë het ek net gewag, vir enige beweging onder my, sodat ek kan afspring. Prinses het op haar beurt gereken, sy moet eers klaar kou aan haar mielies. Na ‘n goeie minuut se staan en kou, het sy een treë vorentoe gegee. Net voor sy haar tweede tree kon gee, was ek af, en langs haar. "Die perd sal my doodmaak!" het ek gesê. "Sie jy nou ophou staan en speletjies maak, klim nou op die poon, sy’s hondmak," het my oupa met ‘n groot stem van die veilige kant af geroep.
Na 'n halfuur se op en af van Prinses, sonder dat sy veel gedoen het. Behalwe om eenkeer na my voete te byt. Was die hele familie verveeld met my, en my hondmak wille perd.
So het die jare aangestap. Ek het my vrees oorwin, ek en my ou poon, het die wêreld verower. Die droom het begin sterk brand om regte wilde perde in te breek. Ek het ‘n natuurlike slag met wilde perde ontwikkel.
As hoërskoolseun, het ek in vakansies wilde perde begin inbreek. As ek vandag terug kyk, was dit wreed en lomp. Ek moet bieg, ek het nie van beter geweet nie. My kennis moes ek put uit ou ooms, by familie saamtrekke wat bloedmin van jong perde geweet het. Ek het almal se raad so saamgegooi.
Ek sê weer, ek is nie trots op dit nie, maar dit sal ook nou nie juis help om te staan en lieg vir die koerant nie!
Toe verander my hele denkwyse oor ‘n perd. Ek slaag matriek en verkas vir ‘n "gap" jaar, Ierland toe.
Daar beland ek op 'n perde plaas, waar van die beste Renperde in Europa geteël word. My werk was om stalle te skrop. Met ‘n wrangheid dink ek terug aan al daai stal skoppery.
Daar ontmoet ek toe mos ‘n ou oom, Sir Martin Mc Enery. Hy het van die grootste name in die wêreld geteël. Hy was oud, maar die liefdesvlam vir sy perde het so vurig en kragtig uit sy oë, en stem gekom, dat hy op sy 82 jaar soos ‘n  graad 9 seun, na sy eerste oopmondsoen te kere gegaan het, die dag as hy oor sy perde begin praat het.
Hy sê toe eendag vir my, "Horses are like women. You don’t grab them, you meet them half way, and show them the way. They will follow you and respect you."
So het ek toe begin met ‘n nuwe metode, die woord inbreek lê eintlik soos ‘n vloek-woord op my gemoed. Mens breek nie ‘n perd nie, jy wen sy vertroue en respek.
Ek begin toe al in Ierland, ‘n klomp kennis optel oor die hantering van perde en sekere perde in sekere situasies. Ek was geseënd om by die bestes te kon steel met my oë.
Ek begin studeer aan die PUK. Ek en my vriende, trek toe deur Potch se omtes, opsoek na ‘n perd om te ry. 
So kruis ek toe paaie met Thom Swart, ‘n Sammajoor en ‘n ‘jentelman’ by die huis, en ‘n fenomenale perde kenner en liefhebber.
By hom leer ek toe 90% van wat ek van perde weet.
Dis nou vier jaar later en ek het intussen nie minder as 100 perde geleer nie, met oom Thom se beginsel in my agterkop. Werk met respek maar werk ferm.
Perde is soos mense, jy moet na elkeen se belange anders omsien. Party is aandag afleibaar, ander is stadig om te begryp en andersom. Party is verskrik en ander is varke.  Laasgenoemde raak gewoonlik jou beste ryperde.
As jy na ‘n trop perde in die natuur gaan kyk, is ‘n merrie altyd die trop leier. Die hings is in dek seisoen, mannetjie uitnek, maar sodra hy klaar gewerk het, raak hy maar treurig.
Sodra ‘n merrie voel, daar is ‘n jong perd wat bietjie oorlams, en voor op die wa is. Dan jaag sy hom uit die trop. Die jong perdjie, gewoonlik in sy "tienerfase" sal om en om die trop beweeg, met die merrie wat hom stip dophou. Die oomblik wat hy te na aan die trop kom, verdryf sy hom weer. Die jong perdjie sal dan sy kop laat sak, en sy neus so 10cm van die grond af hou. Hy sal dan ook begin om met sy bek te knibbel. Dit is alles, is tekens dat ‘n perd gereed is om te onderhandel. Die merrie sal steeds hom stip aankyk, tot die perdjie sy lyf draai, en reguit in die merrie se rigting draai, en ‘n tree nader gee. Die merrie sal nader stap, aan sy nek en skouer ruik, dan omdraai en ongeïnteresseerd wegdraai en terug stap trop toe.
Die jong perd sal nou wonder, wat het hy verkeerd gedoen om nie haar goedkeuring weg te dra nie. Hy sal weer knibbel en voor haar gaan staan, tot sy voel hy is nederig genoeg. Dan sal die jong perd weer welkom wees by die res van die trop.
Dit is presies, wat jy as mens ook moet doen. Jy moet die plek van die trop leier in neem. So, jy jaag die ongeskoolde perd (bv ‘n jong hings) in ‘n ring in, dan gaan staan jy in die middel van die ring, jaag die perd, weg van jou lyf af. Hou hom stip dop, ek gebruik gewoonlik 'n lang tou, om die perd te jaag. Ek rol die tou op en gooi dit met 'n skiet aksie, dat dit teen die perd se agterstewe plons. Dit maak die perd nie seer nie, maar hy skrik goed genoeg, om aan die beweeg te bly. Die perd moet verkieslik op ‘n draf bly. As hy nou en dan, deur breek na ‘n gallop, is dit nie rede tot benoudheid nie.
So daar staan jy nou, in die middel van die ring, met die rou perd wat om jou draf. Net sodra die perd begin spoed verloor, dan jaag jy hom aan, moet nie mooi woordjies gebruik en saggies praat, en koer nie. Onthou, jy is die trop leier. Jy moet met die perd se kop smokkel. Hy moet met jou wil onderhandel, nie jy met hom nie.
Die perd sal na so 15 minute se draf begin om te onderhandel. Hy sal sy een oor so effe na jou draai. Na nog so minuut sal hy sy kop laat sak, so in die draf. Dan sal hy begin knibbel. Dan skielik sal hy stop, en na jou toe draai. Sodra hy dit gedoen het, het jy klaar halfpad gewen.
Stap stadig na die perd toe. Moet hom nie bekruip nie, dit gaan hom laat weg vlug van jou. Moet ook nie op hom afstorm nie, wees net kalm. Moet ook nie jou hand uitstrek asof jy hom wil voer nie. Loop net eenvoudig na die perd, en laat sak jou oë.
As die perd weg beweeg van jou, dan is hy nog nie heeltemal reg om te onderhandel nie. Jaag hom dan maar weer, tot hy gaan staan. Stap nader met jou skouer verby die perd se neus. Tot langs sy blad.
Nou draai jy om en stap weer tot in die middel van die ring, moet nie vir die perd kyk nie, draai jou rug op hom. Die perd sal nou verward wees, want jy het die onderhandeling verbreek, hy sal agter jou aan kom en aan jou ruik.
Nou is jy en die perd op die selfde bladsy, begin hom te vryf op sy voorkop. Nou kan jy begin koer in sy ore. Sit vir hom 'n toom aan, hy gaan tien, teen een sy jis afskrik, die eerste vyf probeer slae. Sodra jy ‘n toom, of halter aan sy kop het, het jy beheer oor jou perd. Moet nie dat die perd dit te veel agter kom nie. Hy moet staan oor hy wil, nie oor jy wil hê nie. Sien, dis maar ‘n kopspeel storie.
Nou sit jy, jou saal op. Dit mag dalk bie-tjie oorreding, en geduld  kos. Jaag die perd weer in die rondte, hy sal skrik vir die saal en dalk snorkend bok. Los hom, dat hy vrylik rondbeweeg en klaar bok.
Sodra jy sien hy is weer rustig, gaan staan  langs die perd. Begin liggies op en af spring, asof jy wil op spring. As hy skrik, spring minder, al wieg jy net op en af op jou tone. As hy die gewoond is, dan doen jy dit meer heftig.
Nou begin jy op die saal lê met jou maag. Doen dit van albei kante. Onthou, om eerlik te wees met die perd. Moet nie skelm jou been probeer oor lig nie. Laat hom sien wat jy doen. As jy reg is. Klim op en sit regop op die perd.
Die ergste wat kan gebeur, is dat jy val, so probeer dit verhoed. As die perd beweeg, is dit goed. Op 'n draf is dit die beste. Moet hom nie laat stap sodat hy planne kry om te spring nie. Dit sal help as jy iemand op die grond het wat die perd kan laat beweeg, met 'n lang peits of tou.
Moet nie jou eerste dag te veel van die perd verwag nie, laat hom maar net in die ring rond draf. Moet nie probeer stuur, en so nie, dit begin jy op dag twee. Soos die tyd aanbeweeg gaan jou perd meer gemaklik raak met jou, en gouer begin reageer op jou bevele.
Dit is hoe jy ‘n perd wen, neem in ag, die resep werk die beste op wilde perde. Party perde is nie so vatbaar vir die proses nie. Hulle sit jy 'n druk halter aan, en dwing hom so doende om vir jou te kyk. Die druk halter moet oordeelkundig gebruik word. Moet nie die perd seermaak nie, maar wees ferm.
Moet nooit ‘n jong perd met lekkernye omkoop nie. Jy maak die edelheid in die dier dood. Jy maak van hom 'n bedelaar en 'n aalmoes soeker. Jy kan nie elke keer as hy iets reg doen, hom beloon met ‘n wortel nie. Sê vir hom, mooi, en gee hom ‘n kloppie op die nek. Ook net eenkeer.
Moet nie elke slag wat hy die selfde ding oor, en oor reg doen hom prys nie.
Onthou een ding. ‘n Perd is nie 'n troeteldier nie, dis ‘n werksdier.
So nou en dan, het ‘n perd ‘n raps nodig. Bv. as hy sy agterstewe op jou draai om te skop. Of jou byt. Dan moet jy hom ordentlik wiks. Soos die maande verloop, sal jy en jou perd se verhouding verander in ‘n hegte vriendskap.
‘n Perd is so edel, hy sal sy lewe vir jou gee. Kyk hoeveel perde, is al in al die oorloë dood. Hulle het beangs en vol vrees, hulle ruiters in die kanon en geweer vuur in gelei, oor hy sy vriend op sy rug, vertrou en gedien het. ‘n Perd sal hom self dood hardloop vir jou. Wys my hoeveel mensevriende sal dit vir jou doen.
So as jy weer na ‘n perd kyk, kyk mooi en kyk weer. Jy kyk vir een van die wonderlikste skeppings uit Gods hand. As jy ‘n perde eienaar is, kyk mooi na jou perd. Jou perd is aan jou toevertrou deur ‘n groter hand. Jou perd sal altyd mooi na jou kyk. Al is dit tot sy nadeel, gaan vra maar vir Wolraad Woltemade.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube