<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Rot se kind loop sy rieme styf

 
Rubrieke / Columns : 27 Jul 2016 971 Viewed By Melt van der Spuy 0

Herman laat klap die kasteeltjie se oor, sug dramaties en toe praat hy: “n Rot is ’n gemors-ding.”
Ons drie professionele afgetredenes sit op my stoep en het pas gepraat oor waar ons volgende keer die karavane heen sleep, toe Herman met sy rot-ding kom.
Ek en Servaas weet nie wat Herman bedoel nie. Voor ek of hy iets kan sê is dit weer Herman wat na ’n lang teug uit die kasteeltjie sê:” ’n Rot is ’n gemors-ding en ’n rot in ’n karavaan is ‘n groter gemors-ding.” Ek dink ons begin agterkom waarvan Herman praat. Ek sien sommer hier kom ’n ding.”Nou hoe bedoel meneer nou?”
Herman sit skielik regop. “Man, ek en ma was mos die week oord se kant toe en kies toe daar een van daai lekker staanplekke teenaan die veld. Die plek weet ook nie van droogte nie, want die gras in die veld staan lekker lank. Moes van daar wees waar die rot gekom het.
“Ons twee sit lekker helder oordag en koffie drink onder die afdak toe ek sommerso terloops na die karavaan se oop deur kyk. Ek skrik my skoon verwagtend. Hier by my, in die deur, loer ’n bielie van ’n rot vanuit die karavaan na my toe.
“Ek spring op en gil, ‘Hier’s ’n rot!’. Ma vlieg uit die stoel uit en skop dit skoon onderstebo. Sy wou nog weet waar’s die swerkater, toe’s ek die karavaan in.
“Gelukkig het ek ’n stuk tuinslang in my karavaan juis om sulke tipe gediertes op hulle plek te sit en met die inspring, gryp ek die slaanding wat altyd op sy plek langs die deur hang. Met die ander hand wil ek die deur agter my toe pluk maar met dié is ma halfpad die karavaan in en ek druk haar en die deur gelyk in die kosyn vas.
“Sy gil. Ek gee skiet en sy spring by my verby die karavaan in. Sou later blyk sy’t gedog die rot is buite en ek wou net ’n slaanding kry om hom van kant te maak. Met die deur agter my toe weet ek hy kan nie uit nie. Ek sê vir ma sy moet help soek na die rot. Voor sy nog besef dit beteken sy en die rot is saam in die karavaan, steek rot se kind se kop om die yskas en hy besluit hy laat waai voor ons verby anderkant toe.
“Ma sien hom en toe’s dit nag. Sy trap vas soos geen verspring atleet kan nie, lig haarself tot omtrent halfpad tussen die vloer en die dak en korrel bed toe.
“So in die lug begin sy hardloop en toe die lugdinamika en al daai wetenskaplike goed bymekaarkom, trek sy weg en skiet soos ’n vuurpyl vorentoe.
“Die gil wat uit haar mond kom sny deur murg en been en toe sy bo-op die bed land, klim daai gil ’n oktaaf hoër en slaan oor in ’n jammerlike snik. Met die wat sy land, pluk sy haar bene op en slaan haar arms om dit. In so fetus-houding kry sy dit nog steeds reg om om te draai in rot se rigting.
“Die rot het intussen van skone benoudheid ’n u-turn gegooi en kom vir my. Ek trap vas en laat loop met die tuinslang. Gelukkig is dit raak en ek slaan daai rot so plat soos ’n bord." Ek en Servaas skud van die lag. Servaas sê: “Gelukkig het jy raak geslaan, anders....”
Herman se oë reg groot: “Seg jy met ’n mondvol tanne.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube