<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Ontwerper student maak Lephalale trots

 
Galleries : 14 Nov 2016 1023 Viewed By Valerie Cilliers 0
Die meeste mense in Lephalale ken hom as Kittou, ‘n talentvolle jong ontwerper wat vele jong dames se matriekafskeidrokke gemaak en by Lekka Rekka gewerk het. 
Vandag staan hy bekend as Christopher Gill, ‘n tweede jaar student aan die North West School of Design (NWSD), waar hy besig is met ‘n internasionaal erkende graad in mode-ontwerp. Christopher is Saterdag aangewys as die NWSD ontwerper van die jaar en dit is die ene Gert-Johan Coetzee wat hom tans mentor om een van Suid-Afrika se top ontwerpers te word. Noordelike Nuus het met hom gesels oor waar dit alles vir hom begin het.
NN: Wanneer het jy geweet dat mode-ontwerp jou toekoms gaan wees:
CG: Ek het in Grahamstad groot geword waar my hele familie in die kleremaak bedryf gewerk het. ‘n Mens kan maar sê dat ek tussen materiaal en garing grootgeword het. Toe ons Lephalale toe getrek het, het ek by Lekka Rekka begin werk en gou ‘n kliente basis opgebou.
NN:Jou mentor is die baie bekende ontwerper Gert-Johan Coetzee, hoe het julle paaie gekruis?
CG: ‘n Vriendin van my, Melanie, het hom op Instagram gevolg en ons was albei versot op sy ontwerpe. Sy het gelees dat hy ‘n beurs van R170 000 aanbied vir ‘n student om onder andere ‘n drie jaar graad by sy almamater, NWSD te studeer. Aanvanklik het ek daarteen besluit, omdat ek nie die selfvertroue gehad het nie.
Die idee wou my egter nie los nie en ‘n dag voor die sluitingsdatum het ek my portfolio ingehandig. Kort daarna het Gert-Johan my gebel met die nuus dat ek een van 15 finaliste is. Ek moes Klerksdorp toe ry om die Platinum Fasion Festival by te woon, daar het hy ‘n onderhoud met my gevoer en is ek aangewys as die wenner.
NN: Te danke aan die beurs kon jy in 2015 inskryf as 1ste jaar student by NWSD, geniet jy die studies?
CG: Dit is baie uitdagend en baie harde werk, maar ek het wonderlike dosente en ‘n briljante mentor in Gert-Johan Coetzee. Ek leer baie oor die bedryf en ek voel bevoorreg om te kan studeer in iets waarvoor ek so lief is.
NN: Jy is Saterdag aangewys as die NWSD ontwerper van die jaar. Jy het diè toekening ook in jou eerste jaar verwerf. Wat beteken dit vir jou?
CG: Ek twyfel soms in myself, maar toekennings soos hierdie gee my weer die selfvertroue wat ek nodig het om my merk in die Suid-Afrikaanse mode bedryf te maak. Dit maak al die harde werk die moeite werd.
NN: Wanneer jy jou studies in 2017 voltooi, gaan jy vir ‘n jaar ‘n internskap by Gert-Johan Coetzee doen. Hoe sien jy jou toekoms daarna.
CG: Ek werk reeds vakansies by Gert-Johan en leer regtig baie by hom, hy is een van ons land se mees talentvolle ontwerpers, maar hy glo daarin om in die toekoms van die bedryf te belê. Ek sal ook graag eendag soos hy beurse aan studente wil gee en soos hy studente mentor. Ek hoop ook om eendag my ontwerpe op die loopplanke van die wêreld te sien.
NN: Sou jy jong ontwerpers aanraai om in die rigting te studeer.
CG: Beslis ja, daar is soveel geleenthede in die bedryf, nie net in ontwerp nie, maar ook in mode fotografie, kommunikasie, aankope en vele meer. As jy dit kan droom, kan jy dit doen.
 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube