<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Wat beteken Paasfees regtig?

 

Foto: Pininterest

Lifestyle/Leefstyl : 24 Mar 2016 662 Viewed By Minda Marshall 0

Paasfees word gevier wanneer Christene wêreldwyd die kruisiging van Jesus Christus herdenk en dink aan die tyd toe Christus gekom het om die sonde van mense wat Hom aanneem as Verlosser weg te neem.
Dit is ook ‘n tyd wanneer Paashase, Paaseiers, spesiale dienste en meer deel van aanvaarde Christen tradisie geword het. Ons kan maklik in al die tradisies verlore raak, en daarom is dit belangrik om terug te kom na die ware betekenis van Paasfees.
Die Nuwe Testament leer ons dat Jesus ná die derde dag opgestaan het uit die dood en daarna opgevaar het na die hemel. Maar wat beteken Paasfees regtig, in my daaglikse lewe vir my as Christen? Paasfees is veel meer as die viering van ‘n dag, dit is 'n lewenswyse. Hoe word die ‘lewenskrag’ wat in die gebeure van Paasfees verskuil is deel van my lewe? Ons weet Jesus is ‘n Lewendmakende Gees. Paasfees is ‘n duidelike rigtingwyser van hierdie lewenswaarheid. Daar is ‘n krag wat direk uit ons verhouding met Hom as Verlosser en Koning vloei. Wanneer Hy jou verlosser word, vloei die Ware Lewe in en deur jou. Niemand behalwe jou eie keuses kan dit keer nie.
Hoe word hierdie krag gedemonstreer in my alledaagse lewe? Jy sien nie net meer om na jou eie belange nie, Sy koningkryk word jou lewe en jy begin lewe gee waar jy leef, waar jy beweeg, waar jy met ander mense te doen kry.

Jou gesindheid teenoor mense, gebeure, om die waarheid te sê, teenoor alles verander. Dit wat jy dink, wat jy praat, en wat jy doen begin lewe gee. Wanneer jy deel geword het van hierdie kragtige Lewe verander jou huwelik, jou verhoudinge, jou manier van optree, en jou manier van werk. Jou lewe word die bewys van Sy Lewe. Dit beteken nie dat daar nie uitdagings in jou lewe gaan wees nie, maar die verskil is sigbaar in hoe jy in en deur die tye optree en reageer.

‘n Kragtige lewe van oorwinning word ook jou deel. Daarom behoort elke Christen in hierdie Paastyd na die ware Christen-lewe terug te keer – die lewe wat ons deel geword het toe Jesus uit die dood opgestaan het – die lewe wat die Skeppende Gees van Christus ook vir elkeen wat Hom aanneem moontlik gemaak het.
In die konteks van ons lewe vandag hier in die Bosveld, in SA behoort ons fokus as Christene te skuif na die deurbraak mentali-teit wat eie is aan ons Verlosser. Ons behoort uitstekende, verbasende, nuwe kreatiewe planne, om ‘n beter toekoms vir almal te kan bou, te hê.

Ons behoort saam te werk, venootskappe te sluit, en in eerbare, verhoudinge met mekaar saam te leef, werk en bou. Paastyd se kern is ‘n uitroep na elke mens om uit die verlede te breek, om ons oë op ‘n beter toekoms te rig en met die gesindheid van Christus te werk om Sy heerskappy in en deur ons lewens te bevestig, elke dag, hier waar Hy ons geplaas het.

Mag die krag van Paasfees ook in 2016 jou deel word en bly, wanneer jy terugkeer en fokus op die Lewe wat werklik belangrik is.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube