<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kommentaar oor die nuwe inligtingswet - Politiek sonder gevolge?

 
News : 24 Nov 2011 276 Viewed By Jasper Raats 0

KOMMENTAAR/ COMMENT

Die ANC het Dinsdag gewys dat ons as Suid-Afrikaners nie van hom moet verwag om hoegenaamd anders op te tree as enige van die ander eenparty regerings in Afrika nie. Sonder om te skroom het die regerende party die eerste stap geneem om sy land se mense van hul vryheid van spraak te stroop en ook die reg om te weet hoe hul land deur hul gekose leiers geadministreer – of wanadministreer word.

Ek vermoed wanadministrasie is die sentrale beweegrede agter die omstrede wetsontwerp wat streef om die staat se doen en late geheim te hou. Indien hierdie wetsontwerp deur die hoof dryfveer daaragter, President Jacob Zuma, geteken word, sal die Noordelike Nuus nie verder mag verslag doen oor die ongeruimdhede waaraan Mogalakwena se Henry Thobenane tydens interne dissiplinêre verhore by die munisipaliteit skuldig bevind is nie.


Ons sal ook nie aan ons lesers mag vertel hoe ‘n Lephalale raadslid probeer het om met belastingbetalers se geld te betaal vir busse wat betogers na ‘n beplande optog sou vervoer nie. As die wet in sy huidige vorm geld, mag sulke inligting nie gepubliseer word nie, al is dit in openbare belang.
En dis nie net die media wat stilgemaak word nie. Jan Alleman kan net soos enige joernalis vir jare tronk toe gestuur word as hy sy buurman vertel wat ‘n vriend by die stadsraad hom vertroulik vertel het. As die staat dan iets wil stil hou – sluit hulle die wat daaroor praat eenvoudig toe.

 

Soos ek sê, die wet maak ruim voorsiening vir wanadministrasie sonder gevolge. En soos dit vir my lyk is dit die ANC politici se grootste uitdaging: om verantwoording te doen vir dit wat hulle belowe en die gevolge te dra vir wat hulle verkeerd doen en die reg wat hulle nie doen nie.


As dit by politiekery en wette maak kom is die ANC heel voor in die linies, maar die regerende party blyk nie so kapabel te wees as dit by die werkstafel kom nie. En om sy onvermoë of onwilligheid om reg te handel wanneer dit van hom verwag word geheim te hou, het die party nou ‘n splinternuwe wet geskryf.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube