-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Lephalale - Vir baie mense is die massas wit skoenlappers wat gedurende Desember en Januarie deur die bosveld vlieg net irriterende blertse teen voertuigvoorruite wat drie keer per dag skoongemaak moet word. Maar die swerms het darem gesorg vir ‘n vlinderwit Bosveldkersfees.
Volgens entomoloog Emiritus Professor Erik Holm, migreer derduisende witgatwitjies (Belonois aurota), jaarliks vanaf die Suid-Karoo tot in die noorde van Zimbabwe, ‘n roete van ongeveer 3 000 km. Hulle broei in witgatbome, vandaar die naam.
Die migrasiepatroon is in die skoenlappers se genetika ingebou as ‘n vaste en onveranderlike gedragspatroon en dit is gewoonlik oorbevolking wat hulle laat vlieg. Goeie broeiseisoene sorg vir groter en meer aanskoulike migrasies.
Gedurende Augustus en September vind soortgelyke noord-suid migrasies plaas vanuit Somalië en Ethiopië wat vorder tot in die noorde van Zambië. Volgens Holm het die heen-en-weer migrasies waarskynlik vroeër jare bymekaar uitgekom vir generasievoortplanting, maar as gevolg van klimaatsveranderings bereik nie een van die migrasies meer hul eindbestemmings nie.
Die swerms vlinders vlieg altyd bedags en altyd in ‘n noord-noordoostelike rigting oor savannah gebiede in die binneland. Hulle word grootliks deur wind aangedryf en slaap snags in bome wat hulle soms heeltemal toepak. Omdat hulle koudbloedig is, wag hulle gewoonlik totdat die son hulle warm maak voordat hulle begin vlieg.
Holm noem skoenlappers die “beheeragente” van die insekteryk – die ruspus is blaarvreters en snoei die bome terwyl die volwasse vlinders die kleur rooi kan sien en uitstekende blombestuiwers is. Hulle lewe van nektar, die sap van bome en plante, vog op die grond, selfs urine, mis en ingewande van diere. Op hulle beurt is die skoenlappers weer goeie kos vir allerhande voëlsoorte op hulle migrasieroete.
Die Amerikaanse melkbosskoenlapper het soortgelyke noord- en suidmigrasies tussen Kanada en Suid-Kalifornië met suksesvolle jaarlikse generasievoortplantings. Die melkbosskoenlapper migreer tot 4 000 km ver, ‘n reis wat 75 dae kan duur. Navorsers in Amerika het een jaar met behulp van rekenaars gedurende 36 dagligure ‘n verstommende telling van ongeveer 3 000 miljoen trekvlinders in Kalifornië gemaak.
0 Comments