-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Hierdie toer het ons lewens verander,” vertel Hennie Pepler wat nie uitgepraat kan raak oor die “Deur Dik en Dun met Dolla” Noord Kaap toer nie. Pepler, het saam met Karien van Niekerk, Angie Marais en Stompie Venter, almal van Ellisras, die langpad aangedurf om bejaardes in Zeerust, Vryburg, Kuruman, Upington, Keimoes, Pofadder, Pella, Springbok, Soebatsfontein en Loeriesfontein met musiek te bedien.
Op Saterdag 26 November vetrek hulle vanaf Lephalale sonder om te weet wat vir hulle voorlê. Hennie wat noukeurig dagboek gehou het se eerste inskrywing lui: “Die gemoedstemming in die bakkie is vol van afwagting en onsekerheid oor dit wat vir ons wag. Ons stop by die uitgang van die dorp en die gebed en emosie van groet is nogal swaar maar haastig verby. Die dinge wat ons op papier en in ons harte beplan het is nou ‘n realiteit.”...en so begin hulle tog.
Die eerste optrede op Zeerust is ‘n groot sukses, maar op Vryburg loop dinge nie so volt nie. Hennie skryf: “En daar pak die senuwees ons beet. Dankie tog vir die gesoute Dolla. Ek en Stompie kan nie ons woorde onthou nie. Die liedjies loop swaar en Angie moet kort-kort ons redding wees. Met afwating wag ons vir die reaksie....Al die oumensies in die gehoor staan soos een man op en voor ons besef is die hele tehuis op ons met drukkies en soentjies. Die program is ‘n sukses. Ons groet en ons huil en ons lag, maar diep binne het iets ons diep getref. Dit is God wat werk in mense se harte.”
So toer hulle deur die Noord Kaap tot by Loeriesfontein, die laaste bestemming: “Die rye van oumenseis wat dankie wil sê is weer daar en ek weet nie hoe om die trane te stop nie. Die toer is klaar en ons groet swaar want die tannies en ooms se harte is so oop. Daar word gespook om Angie te behou en die ander tannies wil Stompie aanneem. Ai dis lekker. Ek gaan dit weer doen en weer doen en weer doen...”
Hennie vertel dat hulle hierdie jaar weer so ‘n toer beplan. “Hierdie keer wil ons‘n groep jongmense saamneem. Ons het so baie geleer en ek wil die jonges van Ellisras die geleentheid gee om dit ook te beleef,” vertel hy.
0 Comments