-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die verval van paaie in die Bosveld het oor die afgelope paar maande onhoudbaar geraak vir padverbruikers.
By die Vaalwater-afdraai op die R518 tussen Lephalale en Marken is daar nou nie veel meer as ‘n smal strokie verbrokkelde teerpad oor nie. Tussen Mokopane en Marken raak die slaggate al hoe meer en is die pad op een plek so weggekalwe aan die kant dat daar nou waarskuwings in die middel van die rybaan aangebring is om te verhoed dat motoriste hier ry.
Die pad tussen Baltimore en Marken kan beswaarlik ‘n teerpad genoem word en boere wat tussen Swartwater en Tom Burke ry se pleidooie val nou al vir die laaste drie jaar op dooie ore.
Ockert Scherman van die Potgietersrus Distrik Landbou Unie, sê dit lyk of daar nooit ‘n einde aan die padwerke aan die pad tussen Crecy en Tuinplaas gaan kom nie. Dit plaas al ander paaie in die omgewing onder geweldige druk en hul toestande verswak by die dag. “Maak nie saak waar ‘n mens ry nie, die paaie is vol slaggate,” sê Scherman.
Hy skryf die toestand van die paaie daaraan toe dat staatsdepartemente wat verantwoordelik is vir instandhouding meer aan salarisse as aan onderhoud spandeer.
Maar Thesan Moodley, woordvoerder van die Limpopo se paaie departement verseker daar is lig aan die einde van die tonnel. Hy sê Limpopo se LUR vir paaie en vervoer, Pinky Kekana, het in Augustus verlede jaar haar stem dikgemaak teenoor kontrakteurs en konsultante wat verantwoordelik is vir die onderhoud van paaie. Hulle is glo gewaarsku dat diegene wat nie presteer nie, hul kontrakte gaan verloor.
Moodley sê die ingenieur en kontrakteur wat verantwoordelik is vir die pad tussen Marken en Baltimore is glo reeds in Desember afgedank omdat hulle nie hul werk gedoen het nie. “Ons is in die proses om ‘n nuwe kontrakteur aan te stel.”
Hy sê daar sal in Februarie met die herstelwerk aan hierdie pad begin word. Wat die ander paaie reeds genoem betref, sê Moodley die kontrakteurs verantwoordelik vir hierdie paaie gaan oor die volgende maande streng gemonitor word. Die LUR beplan glo selfs verrassingsbesoeke aan party kontrakteurs om te sien hoe hulle vorder met opknapping en onderhoud.
Maar Francois van den Berg van Agri Limpopo sê die probleem lê juis by die toekenning van tenders aan kontrakteurs en hy glo dit gaan nie verbeter voor die provinsiale regering begin om bekwame kontrakteurs in plaas van tenderpreneurs aan te stel nie.
“Elke keer dan wen ‘n ander kontrakteur, wat nog nooit eens ‘n grondpad geskraap het nie, die tender om ‘n nuwe provinsiale pad te herstel teen ‘n astronomiese bedrag en dan begin hy of sy skielik iemand soek om die werk te doen. Hulle probeer dan gewoonlik so min as moontlik betaal vir hierdie derde party en so bly kwaliteit in die slag,” argumenteer Van den Berg. “Die departement moet hulle huiswerk doen voor hulle tenders toeken en ervare padbouers aanstel, dan sal dit klaar beter gaan.”
Hy sê boere moet intussen vir die gelag betaal. “Vervoerkontrakteurs vra nou al ‘n premie om landbouprodukte oor slegte paaie weg te bring mark toe. Dit vat ook al hoe langer om produkte op die markte te kry en van al die geskommel op stukkende paaie, is produkte dikwels gekneus en beskadig wanneer hulle aankom.”
Van den Berg sê Agri SA het nou al tot by die nasionale tessourie oor die toestand van ons paaie gaan praat. “Boere betaal belasting, lisensiegelde, brandstofheffings en wat nog alles, maar hulle moet verlief neem dat die paaie elke maand in ‘n slegter toestand is as in die vorige maand.”
Scherman het ook sy kommer uitgespreek oor die feit dat die Limpopo paaiedepartement een van die provinsiale departemente is wat onder administrasie geplaas is deur die nasionale regering. “Ons hoop maar dinge word beter,” sê hy.
0 Comments