<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Munisipale verval?

 
News : 27 Jan 2012 239 Viewed By Jasper Raats 0

MOKOPANE – Raadslede aan beide kante van die politieke spektrum is hande-in-die-hare oor die vervalle toestand van paaie, sypaadjies en parke in Mokopane.
Hulle meen die munisipale departemente verantwoordelik vir die instandhouding en onderhoud van die dorp doen nie hul werk nie.
“Die gras in ons parke staan heuphoogte en waar dit wel gesny is, is daar nie onder bome gesny nie en is rommel net so gelos,” sê DA raadslid, Korny Dekker.
Volgens die internet ensiklopidie, Wikipedia, is die doel van parke in stadsbeplanning om openbare  ontspanningsareas vir dorp of stadsinwoners te bied. “Die ontwerp, bestuur en onderhoud word gewoonlik deur die regering behartig, meestal op plaaslike vlak, maar kan per geleentheid aan privaat-sektor maatskappye uitgekontrakteur word.
“Algemene kenmerke van munisipale parke sluit speelgronde, tuine, staproetes, draf en fiksheidspaaie en soms openbare toiletgeriewe in na gelang van die begroting en natuurlike hulpbronne beskikbaar,” lui die Wikipedia omskrywing.
Mokopane se parke voldoen aan geen van hierdie kenmerke nie en kan bloot as oorgroeide stukke veld met vervalle en geroeste speelgoed daarop beskryf word.
Nog ‘n raadslid, Beyers Smit, sê hy het die afgelope paar maande al verskeie kwessies onder die munisipaliteit se aandag gebring. Sy klagtes spruit uit onwettige storting in die Prins Park tussen Vanadium en Topaasstraat, stukkende straatligte, slaggate en slote in woongebiede, sand in paaie en taxi's wat op onwettige plekke stop en mense op en aflaai. Hy het tot dusvêr geen reaksie gekry nie.
Baie besoekers aan die dorp kla ook gereeld dat baie strate se naamaanwysers weg is of dat die bordjies so verblyk is dat mense dit nie kan lees nie.
Verskeie mangate en stormwater- dreineringsgate in die dorp staan oop of is in so ‘n gehawende toestand dat dit gevaar vir mens en dier inhou.
Dekker sê wat hom die ongelukkigste maak is dat die dorp nie lyk soos hy lyk oor ‘n tekort aan geld nie. “Daar is geld en tyd om hierdie probleme aan te spreek en reg te maak, dit lyk eerder vir my of die wil by ons munisipaliteit ontbreek. Hulle is nie lus om hul werk te doen nie.”
Maar munisipale bestuurder William Kekana sê die probleem lê eerder by swak beplanning, iets wat hy beoog om hierdie jaar reg te stel. Hy verduidelik dat die goeie reëns wat die onlangse twee maande in die Bosveld geval het, die parke departement onverwags betrap het. “Die gras het verskriklik gegroei en die departement is gekniehalter deur ‘n tekort aan mannekrag omdat baie mense oor die feesgety met verlof was.”
Hy sê die departement is nou druk besig om die agterstand in te haal. Kekana erken dat daar ook probleme met die standaard van onderhoud op parke en munisipale sypaadjies en terreine mag wees en het onderneem om hierdie jaar meer aandag daaraan te gee. Om mee weg te spring sal departementsbestuurders in die toekoms onder druk wees om meer beplanning rondom seisoene te doen alvorens hulle mense se verlofaansoeke goedkeur.
Die klagtes oor paaie, stormwaterslote, padtekens en naamboorde wat in ‘n vervalle toestand is, skryf Kekana toe aan 'n verdeelde fokus by die departement van tegniese dienste. “Ons het so hard gekonsentreer op watervoorsiening verlede jaar dat ons dalk van ons ander verpligtinge agterweë gelaat het.”
Hy sê daar is reeds R7-miljoen beskikbaar gestel vir onderhoud van paaie hierdie jaar en Kekana sê hy sal druk op departementshoofde plaas om die onderhoud van die dorp se infrastruktuur op datum te bring en daar te hou.
Kekana het gevra dat inwoners klagtes onder hul raadslede se aandag bring en gevra dat raadslede hom op hoogte hou van probleme in wyke en die reaksie wat hulle uit munisipale departemente kry.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube