-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Verlede Saterdag was dit tyd vir die Swartwater Tassiefees (voorheen bekend as Swartwater Skouspel)! Die dag het afgeskop met kunstenaars wat van vroeg af al begin optree het. Daar was ook verskeie stalletjies, heerlike eetgoed, kindervermaak en kompetisies.
PJ Cruz was die seromoniemeester en het verseker dat die verrigtinge glad verloop. Gerrie Pretorius, Amor Vittone, Die Penkoppe, Ghapi en Robbie Wessels het gesorg vir vermaak regdeur die dag! Jaco van Idols-faam was ‘n geheime kunsternaar wat almal kom verras het!
Motorfietsryers van die ‘Born to be Wild Motorfietsklub’ het die trekking behartig van die Bashan 250cc X-Plode motorfiets wat gewen is deur Ingrid de Beer van Tzaneen. Danie Swanepoel, president van die klub, het ook ‘n verdere R10 000 aan Hantie van der Watt (skoolhoof van Laerskool Unitas) oorhandig.
Delmarie Venter het die pryse gewen vir die swaartste en mooiste pampoen in die TLU Goliat van Gat-kompetisie. Annemarie Jones het die Hoofmaal-afdeling gewen, Liezel en Dedrich Glas die Teetafel- en Ilse Smit die Broodtafelafdeling. Thinus Venter was die wenner vir die lelikste pampoen!
Die kinders het gewys wat hulle alles kan doen op ‘n J-Board. Hulle het gery teen tyd, twee-twee op een bord en mekaar tot op die rug gedra! Ruan Botha en Chané Botha was onderskeidelik die seun en dogter met die vinnigste tyd, en Kadi Geerkens het die vinnigste gery met Juan Jones op sy rug!
Die dag was ‘n groot sukses, en alle fondse is ingesamel ten bate van Laerskool Unitas. Hulle bedank elke borg, almal wat hard gewerk of ‘n bydrae gemaak het.
0 Comments