<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kobra pik bejaarde

 
Mozambiekse Spoegkobra. Foto: Marius Jooste.
News : 18 Mar 2012 1386 Viewed By Valerie Cilliers 0

‘n Vier en tagtig-jarige toeris van Gauteng is Sondagaand net voor 20h00 by die Bushbuck Rock Valley Lodge omtrent 30km buite Lephalale deur ‘n Mosambiekse spoegkobra gepik.
Die herberg se veldgids, Bertus van Zyl, het net voor agt na die gaste gaan omsien nadat die krag ‘n paar keer afgegaan het. Dit was juis tydens een van hierdie kragonderbrekings dat die bejaarde gas, wat anoniem wil bly, ‘n steekpyn aan haar arm gevoel het.
In die lig het van Zyl dadelik die onmiskenbare bytplek van ‘n slang gesien. Hulle het haar onmiddelik na die Marapong privaat hospitaal geneem waar Dr. Willie Barnard haar behandel het. Sy was Dinsdagoggend sterk genoeg om uit die hospitaal ontslaan te word en sal in Pretoria verdere behandeling ontvang.
Volgens die hospitaal bestuurder, Charlene van der Walt, is die teengif betyds toegedien wat haar kans op herstel baie verbeter. Sy verseker ook die gemeenskap van Lephalale dat daar genoeg teengif in vooraad is en dat dokters in die omgewing goed opgelei is om enige slangbyt te behandel.
Volgens die besturende direkteur van Bushbuck Rock Valley, Kelly Abram, het Van Zyl later daardie aand die slang in die vrou se kamer gekry. “Die kamers by die herberg is hoog van die grond af en dit is vir ons baie vreemd dat die slang sy weg tot in die kamer gevind het.”
Slangkenner Arno Naudé het hierdie week aan Noordelike Nuus gesê ‘n spoegkobra is die enigste slang wat manhaftig genoeg is om in mense se beddens te klim. “Hierdie slange het baie min natuurlike vyande omdat hy kan spoeg én byt. Hy is daarom geensins bang om in ‘n huis in te trek nie. Ons weet egter nog nie waarom hulle dit verkies om in beddens in te seil nie.”
Naudé meen dit kan die reuk wees wat hulle lok. “Spoegkobras kan nie goed sien nie, maar hulle reuksintuig is baie goed ontwikkel. Ons vermoed dat dit die sweetreuk op beddegoed is wat hulle lok, maar het geen wetenskaplike bewysse hiervoor nie.”
Naude sê dit is die sewende geval hierdie jaar waarvan hy weet, waar ‘n Mosambiekse spoegkobra ‘n persoon in sy of haar bed pik. 
“Die Mosambiekse spoegkobra is baie arrogant en eet amper enige iets. Hierdie slange kan swem en selfs klim en daar is min dinge waarvoor hulle skrik.”
Hy raai veral Bosvelders aan om gaas voor hulle vensters en deure aan te bring. “Ek glo dit is die mees effektiefste manier om slange - en veral spoegkobras - uit jou huis uit te hou.”
Verlede Sondag is nog ‘n persoon, ‘n plaaswerker, ook in die Lephalale-omgewing, deur ‘n slang gepik en hierdie keer was dit die gevreesde boomslang.
Volgens Naudé is die boomslang dodelik omdat die pasiënt dood bloei weens die feit dat die gif bloedstolling teenwerk.
Hy sê dit is egter baie selde dat ‘n boomslang iemand sal pik. “Die slang sal net pik as hy uitermatig bedreig voel. Ek vermoed dat die werker die slang wou doodmaak.”
Plaaslike slangkenner. Marius Koekemoer, sê die plaaswerker is na Ellisras hospitaal geneem waar hy verkeerdelik polivalente teengif toegedien is. “Ons het die slang geïdentifiseer as ‘n jong boomslang (sien foto regs bo) en het vir die dokter aan diens gesê om te wag vir bloedtoetse om te bevestig dat daar wel gif toegedien is.”
Die dokter het volgens Koekemoer voortgegaan om polivalente teengif wat nie geskik is vir boomslang byt nie toe te dien. Die werker het ‘n hewige allergiese reaksie teenoor die teengif getoon.
Volgens Koekemoer is monovalente teengif (vir boomslang byte) nie in die dorp beskikbaar nie en moet dit met bewys van vergiftiging in die bloed aangevra word van die teengif-afdeling van die Medies navorsingssentrum in Johannesburg (011 386 6063). “Iemand wat deur ‘n boomslang gebyt is het gelukkig baie tyd. Hy moet binne 48-uur behandeling kry, daar was dus geen haas by die behandeling van hierdie pasiënt nie.”
“Hier is dokters wat weet hoe om slangbyte te behandel. Dr Willie Barnard van Lephalale het die meeste ondervinding en is vertroud met slangbyte en die toediening van die regte teengif,” meen Koekemoer.
Die hoof uitvoerende beampte van Ellisras Hospitaal, Maria Moabelo het Woensdag egter gesê dat die plaaswerker reeds die volgende dag ontslaan is. Sy was nie bewus dat daar 'n ander soort teengif vir boomslangbyte gebruik moet word nie.
Koekemoer glo dat ontbossing en ontwikkeling in die dorp daartoe lei dat al hoe meer slange in mense tuine en huise invaar. Hy vertel dat hy binne twee dae hierdie week drie witneus kobras, drie boomslange, drie pofadders, ‘n sand en sweep slang, ‘n mosambieke spoegkobra, ‘n swart mamba en ‘n skildneus slang in Lephalale gevang het.
‘n Slangidentifiserings en slangbyt-kursus is beskikbaar vir lede van die publiek en Koekemoer raai aan dat alle dokters en ‘n onderwyser uit elke skool so ‘n kursus bywoon. Vir meer inligting skakel Marius Koekemoer by 072 174 6970.

 

 

 
 

Juvenile Boomslang
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube