<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Einde van die Thobejane-sage

 
Die raadsbesluit om Mogalakwena munisipaliteit se omstrede hoof van korporatiewe dienste te skors is met sjampanje gevier.
News : 26 Mar 2012 176 Viewed By Jasper Raats 0

Opposisieraadslede en verskeie ANC lede van die Mogalakwena Stadsraad het verlede Vrydagmiddag glasies sjampanje geklink nadat daar tydens ‘n spesiale Raadsvergadering besluit is om omstrede hoof van korporatiewe dienste, Henry Thobejane, summier af te dank.
Die noodvergadering spruit uit ‘n aansoek wat in Februarie voor die Noord Gautengse Hoë Hof gebring is vir die ter syde stelling van ‘n Raadsbesluit op 22 Junie 2011 waartydens sekere ANC raadslede die heraanstelling van Thobejane deurgestoomroller het. Thobejane is in 2010 geskors nadat hy skuldig bevind is op 26 aanklagte van onder meer bedrog, oneerlikheid, diefstal, nalatigheid, pligsversuim en finansiële wanpraktyke.
Die voormalige LUR vir korporatiewe regering, menslike nedersettings en tradisionele sake, Soviet Lekganyane, het ook al in November vanjaar ‘n brief aan die Mogalakwena Stadsraad gerig waarin hy waarsku dat die bestuur en institusionele stabiliteit van die munisipaliteit agteruit gegaan het sedert die aanvang van die huidige raad se termyn.
Lekganyane het die munisipaliteit opdrag gegee om die aanbevelings van die disiplinêre proses teen Thobejane deur te voer. Hy het ook die burgemeester se kantoor oor die kole gehaal omdat dié die reëls en prosedure rondom aankope omseil.
Die burgemeester, Esther Mothibi, het ‘n sekuriteitsmaatskappy, Maningo Security, aangestel om by haar ampswoning en ook by die munisipale geboue diens te doen sonder ‘n formele aanstellingsbrief geteken deur die rekenkundige amptenaar.
Mothibi en haar steungroep binne die Mogalakwena stadsraad het egter gekies om Lekganyane se instruksies om hierdie probleme aan te spreek te ignoreer.
Die LUR het verlede Vrydag se vergadering persoonlik bygewoon waar hierdie brief saam met die hofaansoek as motiveringspunte vir Thobejane se onmiddelike afdanking gedien het.
Hierdie keer het die raad nie saam met die Mothibi-faksie gestem nie en al die voorstelle is aanvaar. Dit kom daarop neer dat Raadsresolusie 6 van 22 Junie 2011 herroep word en dat Henry Thobejane met onmiddellike effek afgedank word. Dat Thobejane net een maand kennis soos per arbeidswetgewing uitbetaal word, maar dat hy direk na die vergadering alle munisipale eiendom soos sy selfoon, skootrekenaar en kantoorsleutels aan die munisipale bestuurder oorhandig en die perseel dadelik verlaat.
Thobejane het reeds vroëer die week besef die skrif is aan die muur en het Donderdag sy bedanking ingedien saam met eise van ses maande se salaris en dat die munisipaliteit die meer as R200 000 wat hy die instansie skuld sal afskryf. Die munisipale bestuurder, William Kekana, het egter geweier om sy bedanking te aanvaar.
Intussen het die Sowetan berig dat Kekana ‘n regsfirma in Polokwane in 2010 meer as R2-miljoen uit raadsgeld betaal het om ‘van Thobejane ontslae te raak’.  Kekana meen egter dit is ‘n smeerveldtog deur Thobejane, Mothibi en die ander vier raadslede wat saam met Mothibi as die ‘Groot Vyf’ bekend staan. Hulle het vroëer vanjaar Kekana se bedanking geëis, maar kon tot op hede geen konkrete motiverings vir hul eis aanvoer nie.
Oor die R2 miljoen het hy glo aan die Sowetan gesê dat regsprosesse baie geld kos.
Ná afloop van Vrydag se vergadering was Kekana duidelik verlig en is hy deur raadslede van beide kante van die politieke spektrum gelukgewens.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube