<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Spinnekoppe hou padwerke op...

 
Goue bobbejaanspinnekop.
News : 26 Mar 2012 1474 Viewed By Valerie Cilliers 0

LEPHALALE - Die bestuur van GMep (Grootegeluk Medupi expansion project) het by ‘n onlangse raadsvergadering aan raadslede van Lephalale planne onthul om Nelson Mandela-rylaan vanaf Onverwacht tot by die Grootegeluk-myn te verbreed. Die pad sal na voltooing ‘n dubbelpad wees, wat verkeersvloei grootliks sal verbeter.
Bouwerk aan die pad het drie weke gelede begin maar is inderhaas gestaak toe ‘n Medupi-werknemer wat elke dag met sy fiets werk toe ry verskeie bobbejaanspinnekoppe langs die pad gesien het. By nadere ondersoek is gevind dat daar 168 gate is waarin drie verskillende soorte bobbejaanspinnekoppe broei. Een hiervan is die Goue bobbejaanspinnekop (sien foto links onder) wat op die 'topslys' verskyn.
Reptile Rescue is aangestel om die spinnekoppe te hervestig en die eerste verskuiwings is reeds Dinsdagoggend gedoen. Aan die stuur van die projek is Marius Koekemoer.
Reptile Rescue het intussen aansoek gedoen vir ‘n permit om navorsing oor die drie soorte bobejaanspinnekoppe te doen. Eerstens sal spinnekoppe met sorg uitgegrawe en gevang word. Een derde van die spinnekoppe sal gehervestig word in ‘n area wat nog geidentifiseer moet word. Nog ‘n derde sal in ‘n teelprogram gebruik word en die ander derde sal met die volgende reënvalseisoen hervestig word om te verseker dat soveel moontlik spinnekoppe oorleef. Die teelwyfies sal ook na ‘n jaar vrygelaat word in ‘n geskikte habitat.
Volgens Koekemoer is die voortbestaan van die spinnekoppe belangrik vir die beheer van insekbevolkings in die area. “Ons beoog om soveel moontlik data aan Dr. Ansie Dipenaar van die Landbounavorsingsraad deur te stuur. Sy is tans besig is met ‘n nasionale opname oor spinnekoppe in Suid-Afrika.”
Dippenaar het Noordelike Nuus vertel dat die goue bobbejaanspinnekop uniek is aan die Noordelike gedeeltes van Limpopo. “Hierdie spinnekoppe is redelik primitief en leef nie net soos ander spinnekoppe vir ‘n paar maande nie. Hierdie bobejaanspinnekoppe kan tot 20-jaar oud word. Hulle begin ook eers na vyf jaar eiers lê. Hulle word beskou as bedreig omdat hulle so gewild is om mee handel te dryf en omdat hulle redelik skaars is.”
Volgens Dippenaar is hulle nog nie seker wat die effek van die hervestiging op die spinnekoppe gaan wees nie. “Hulle is baie sensitief en hierdie projek sal met groot sorg benader word.”
Met genoeg sorg en tyd behoort padverbruikers en spinnekoppe eersdaags gelukkig te wees met ‘n nuwe pad en ‘n nuwe huis.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube