-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Met petrol wat van Woensdag af 71c per liter meer kos en Eskom wat op 1 April elektrisiteitstarriewe met 16% verhoog het is dit te wagte dat kospryse dienooreenkomstig sal styg. Boonop word daar nog ‘n verhoging in die petrolprys in Meimaand verwag.
Kenners waarsku dat hierdie prysverhogings selfs iemand wat in ‘n plakkershut woon en werk toe stap gaan affekteer. Van hoër kospryse kan niemand wegkom nie.
Verbruikers gaan moet spaar waar hul kan om in een stuk deur hierdie jaar te kom. Noordelike Nuus het by die kenners gaan kers-opsteek vir raad en wenke as dit kom by krag en bransdtofbesparing.
Die Verenigde Koninkryk se Instituut vir Gevorderde Motoriste se hoof uitvoerende beampte, Simon Best, reken mens kan minstens 10% minder brandstof gebruik deur “groen” bestuurstegnieke te implementeer. Dit is omtrent R60 per tenk vir gemiddelde gesinsmotors.
Eerstens sê hy motoriste moet vooruit kyk en dink wanneer hulle bestuur. Om tot naby ‘n stopstraat of verkeerslig te ry en dan skielik te rem brand onnodige petrol. Hy raai motoriste ook aan om die spoedreguleerders in moderne voertuie te gebruik wanneer hulle oor lang afstande reis. Dan is daar die ou booswig waarvoor Suid-Afikaners so lief is: spoed. Best sê ‘n mens kan tot ‘n liter petrol per 100km spaar deur 100km/h in stede van 120km/h te ry.
Hy raai motoriste ook aan om hul enjins af te skakel as hul vir lang rukke stilhou en om nie onnodige gewig saam te karwei nie. “Los jou swaar gholfstokke by die huis as jy nie vandag gaan gholf speel nie."
Ten slotte sê Best banddruk moet gereeld nagegaan word. “As jou bande pap is gebruik jy 3% meer petrol as wat jy moet, dit kan sowat R18 op ‘n tenk petrol kos.”
En om op die kragrekening by die huis te spaar gee die Homemakers webwerf ‘n lys van algemene items en hoeveel elektrisiteit hulle in die gemiddelde huishouding gebruik: verwarmers en waaiers 18%, ligte 17%, yskaste en vrieskaste 8%, stowe en oonde 11%, geysers 24%, en ander elektriese toerusting 15%.
In die kombuis kan hierdie syfers ingeperk word deur eerder water in die ketel te kook as om te wag dat daardie papwater op die stoof kook. Om kos in die mikrogolfoond gaar te maak gebruik baie minder elektrisiteit as die stoof of oond. Die oond gebruik 18 keer soveel krag as die mikrogolf.
As jy wel besluit om die oond te gebruik moet jy nie die deur onnodig oop en toe maak nie. Maak ook seker die yskas se deur is mooi geseël.
In die meeste huishouding vorm ligte sowat 17-20% deel van die elektrisiteitrekening. Sit altyd die ligte af in vertrekke wat nie gebruik word nie. Sit die televisie af as hy nie gebruik word nie asook die radio. Kenners stel voor dat mense liewers stort as wat hulle bad omdat ‘n stort baie minder water gebruik. Mense wat ‘n swembad besit moet die swembad pomp net aanskakel wanneer nodig, want dit is een van die grootste verbruikers van elektrisiteit.
Noordelike Nuus is oortuig hierdie prysstygings kan tot ‘n groot mate oorbrug word.
Ons nooi ons lesers om wenke te stuur aan cindy@noordnuus.co.za.
0 Comments