<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Renosterkalfie drink aan ma se karkas

 
News : 13 Apr 2012 418 Viewed By Valerie Cilliers 0

Die maand-oue renoster kalfie wat Sondag in die vroeë oggendure langs sy ma se karkas gevind is, sterk goed aan in ‘n rehabilitasie sentrum net buite Thabazimbi.
Die kalfie se ma is om 01h30 Sondagoggend in die Dabchick-natuurreservaat naby Alma op ‘n kort afstand met 'n jaggeweer twee keer in die kop geskie en haar horing is afgekap.
Die kalfie is tans in die sorg van Dr. Louis Greef, ‘n veearts van Thabazimbi. Greef het hierdie week met Noordelike Nuus gesels oor die voorval. Volgens hom wil dit voorkom of die kalfie ten tye van die aanval gevlug het, maar later weer teruggekom en selfs aan sy ma probeer drink het. Sy was reeds dood. Greef is gevra om die kalfie te verdoof want hy het aanhou spook om by sy ma te bly, hy het haar bly stamp en was duidelik erg getraumatiseerd.
Greef sê die gewapende wagte op die reservaat het na hulle laaste patrollie net voor twaalf Saterdagaand gaan slaap.
Die renosterkoei is kort daarna slegs 300m van die plaasbestuurder, Martin Roux, se woonhuis geskiet. Roux het aan Greef gesê dat hy die skote en die bylkappe gehoor het. Na ‘n soektog het hulle het die kalf die volgende oggend by sy ma se karkas gekry.
“Ek wil hê dat julle hierdie foto plaas sodat mense kan sien hoe barbaars hierdie skelms is,” het Greef Dinsdag gesê. “Ons het verlede week stropers vasgetrek en hulle is aangekla van die onwettige besit van vuurwapens en het elk ‘n R1 000 boete betaal. Nou is hulle weer op vrye voet om renosters in die Waterberge te stroop. Jy moet so ‘n stroper in die daad betrap anders kom hulle daarmee weg. Ons is raadop.”
Sedert begin vanjaar is 164 renosters landwyd vir hul horings gestroop.
Intussen het die SA Jagters- en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) die regering gevra om die  Konvensie op die Interna­sionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES) te versoek om SA se witrenosters af te gradeer om die internasionale  handel in renosterhoring toe te laat as die enigste doeltreffende maatreël teen renosterstropery.
SAJWV het ook aanbeveel dat deskundiges in die private en openbare sektore ‘n enkele entiteit skep met ‘n duidelike mandaat om stropery hok te slaan en die internasionale handel in renosterhoring te bestuur met behulp van DNS-data.
Die Veterinêre Genetiese Laboratorium by die Veeartsenykundige Fakulteit van die Universiteit van Pretoria versamel al vir geruime tyd DNS van renosters en renosterhoring vir sy Renoster DNS-indeksstelsel (RhODIS).
Die Vereeniging se besturende hoof, Dr. Herman Els, waarsku dat olifante en leeus, net soos renosters, eersdaags ook onder stropers kan deurloop. “Ons hoop dat ons nie die bedreiging van hierdie diere ook op ‘n soortgelyke reaktiewe wyse moet beveg nie.”
Sedert die dramatiese styging in renosterstropery in 2010, het SA Jagters en bekende bewaringsdeskundiges versoek dat die internasionale handel in renosterhoring gewettig moet word.
Hierdie week is nog twee renosters in Limpopo geskiet, een op ‘n plaas buite Hoedspruit, die ander op ‘n wildplaas naby Tzaneen. Die eersgenoemde koei was dragtig en was twee jaar gelede onthoring. Storpers het volgens Beeld die helfte van haar snoet weggekap om die stompie te stroop wat begin teruggroei het.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube