-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Inwoners van Lephalale het Vrydag met groot hartseer afkeid geneem van bekende sakeman van die dorp, Stephan Hattingh, waar hy uit die NG Kerk Wes in Onverwacht begrawe is.
Hattingh is verlede Dindsdagaand op pad van Thabazimbi na Lephalale in ‘n motorongeluk oorlede.
Hy was 'n bekende gesig in die dorp en die bestuurder van Ocean Basket in Lephalale. Hy was betrokke by planne om ook in Thabazimbi en Modimolle takke van dié gewilde seekosrestaurant oop te maak.
“Hy was nog nie eens 40 nie, maar het reeds groot spore in die dorp getrap,” het Niko Kruger, een van Hattingh se vriende aan Noordelike Nuus vertel.
“Hy het in sy kort lewe etlike groot besigheidsprojekte aangepak en van ieder en elk ‘n sukses gemaak van ‘n nagklub tot Hi-Q bande tot U-glass.
“Maar hy was veel meer as net ‘n sakeman. Hy was ‘n gedugte sportman en is meer as een jaar as Mogol Gholfklub se klubkampioen gekroon,” vertel Kruger.
“Daar is so baie dinge waarvoor Stephan onthou sal word. Sy spitsvondigheid, sy liefde vir sy motorfiets, sy vriendskap, sy lojaliteit teenoor sy familie, vriende en sakevennote en baie dinge waarvan ons eers nou dat hy nie meer by ons is nie bewus gaan word."
Hattingh laat sy ouers, ‘n broer en suster, sy geliefde, René en hul klein seuntjie, Henkie, agter. Noordelike Nuus bid vertroosting toe aan al sy familie en vriende.
0 Comments