<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Limpopo platteland: Huis huur is peperduur!

 
News : 21 May 2012 1186 Viewed By Jasper Raats 0

Dit wil voorkom of die Waterbergse steenkool, yster en platinavelde huurhuise in goudmyne verander het. Die koerante van die LiN Media-groep het gaan kyk hoe lyk eiendomspryse in die verskillende dorpe en hoe dit met pryse in die stad vergelyk.
In Lephalale het die Medupi kragstasie bouprojek gesorg vir ‘n invloei van meer as 10 000 mense na ‘n dorpie wat vyf jaar gelede skaars 4 000 inwoners gehad het.
Hier moet huurders vir ‘n gemiddelde drie-slaapkamer, twee-badkamer woonhuis tussen R9 000 en R12 000 per maand opdok afhangend van geriewe soos motorhuise, afdakke en heinings. “Iemand wat ‘n drie-slaapkamer huis huur vir minder as R8 000 per maand, huur ‘n winskoop teen die huidige markpryse,” sê Marié Kruger van Proprite Eiendomme.
En hoewel Lephalale by verre die duurste van die dorpe in die LiN Media groep se verspreidingsvoetspoor is, is dit nie die enigste plattelandse dorp waar huurhuise duurder as in die stede van Gauteng nie.
Uit Tzaneen berig die Laeveld Bulletin dat verblyf so skaars soos hoendertande is en wanneer ‘n spesifieke persoon ‘n spesifieke woning vind wat aan sy behoeftes voldoen, is dit gewoonlik net-net te duur.
Thabazimbi se ysterneerslae sorg dat huurhuise hier flukse verdieners van inkomste bly. ‘n Drie-slaapkamerhuis in hierdie Bosvelddorpie kos tussen R6 000 en R8 000 per maand en vir iets met bietjie flair en goeie sekuriteit kan ‘n mens selfs meer betaal.
In Bela-Bela, Modimolle en Mookgophong is die huurmark ook die een afdeling in die eiendomsmark wat ongekende groei beleef. Die Pos se Keina Swart berig dat dit hoofsaaklik toegeskryf kan word aan die ekonomiese knyptang waarin die wêreld homself die afgelope paar jaar beleef – bitter min nuwe huise is in hierdie tyd gebou en dus oorskry die vraag nou die aanbod. Hier wissel die prys vir ‘n gemiddelde drie-slaapkamer, dubbelbadkamper huis tussen R4 000 en R6 600 per maand.
Charmaine Gouveia van Acutts Mokopane sê die vraag na huureiendomme in dié dorp het sedert die begin van die jaar effens toegeneem, maar is nog nie naastenby op die vlakke van Lephalale en
Thabazimbi nie. Hier kos dit so R4 500 om ‘n gemiddelde drieslaapkamerhuis te huur. Meenthuise in dié dorp is gewoonlik niks minder as volwaardig drie-slaapkamer huise op klein voltitel erwe nie en vorm die rugraat van die huurmark.
Maar, Gouveya het aan Noordelike Nuus gesê dat hierdie pryse nie lank so laag gaan bly nie.
Met vier myngroepe wat binne die volgende twee jaar nuwe platinamyne in die gebied gaan oprig en aansoeke vir nog mynregte in die omgewing, kan pryse binnekort die hoogte inskiet.
In Hoedspruit is dit die omgewing en die leefstyl wat die vraag na eiendom dryf. Kruger2Canyon het met Belinda Barkes van Pam Golding gaan gesels. Sy sê die gemiddelde drieslaapkamer, dubbelbadkamer huis daar kos tussen R5 500 en R6 500 per maand of dit nou in die dorp of in een van die popoulêre wildlandgoed ontwikkelings is.
En in Louis Trichardt kos so ‘n huis tussen R6 000 en R7 000 per maand. Die Zoutpansberger berig egter dat die vraag na woonstelle huidiglik besig is om die huurmark in dié dorp te stook. ‘n Drie-slaapkamer woonstel in Louis Trichardt kos tussen R4 000 en R4 500 per maand. Sulke woonstelle in sekuriteitskomplekse word vinnig opgeraap omdat mense al hoe meer sukkel om huislenings te kry onder die bepalings van die kredietwet.
Huurkostes vir verskillende wonings in die verskillende dorpe kan as volg opgesom word:
‘n Een-slaapkamer woonstel kos gemiddeld R2 300 per maand in Thabazimbi, R4 200 per maand in Lephalale, R1 900 per maand in Hoedspruit, R2 600 in Louis Trichardt, R2 600 in Bela-Bela en R2 500 in Mokopane.
‘n Twee-slaapkamer woonstel kos so R3 000 per maand in Mokopane, R3 300 in Thabazimbi, R5 500 in Lephalale en R3 900 in Louis Trichardt.
En as mens nou ‘n luukse vier-slaapkamer huis met dubbelgeriewe en ‘n swembad en lekker kuierarea wil huur in een van ons dorpe se spogbuurte dan kan jy maar regmaak vir so R18 000 per maand in Lephalale, R8 300 per maand in Thabazimbi, R7 000 in Mokopane, R8 000 in Hoedspruit, so R11 000 in Bela-Bela en in die omgewing van R8 000 in Louis Trichardt.
En hoe vergelyk dit met pryse in die stad? Wel in die Noorde van Pretoria waar meeste Bosvelders en Laevelders darem nog effe tuis sal voel kos ‘n een-slaapkamer woonstel so R2 500 per maand en ‘n twee-slaapkamer meenthuis so R3 600 volgens die webwerf privateproperty.co.za. Ons gemiddelde drie-slaapkamer, dubbelbadkamer huis kos so R9 500 per maand in Amandasig en vir die luukse vier-slaapkamer droomhuis betaal ‘n huurder so R16 700 per maand in Pretoria Noord.
Die dae wat plattelanders soveel goedkoper as mense in die groot stede bly is duidelik verby, maar sê Pieter Vogel, ‘n sakeman met belange in beide Mokopane en Lephalale: “Plattelandse sakeondernemings werk nie teen naastenby dieselfde winsgrense as besighede in die groot stede nie. Dus raak dit al hoe moeiliker om mense in diens te neem want gewone werkers kan nie meer blyplek bekostig met plattelandse salarisse nie. Dis ‘n knyptang wat besig is om besighede op ons dorpe dood te druk.”

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube