-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
MOKOPANE - Die Sentrum vir Omgewingsreg, het onlangs ‘n program van stapel gestuur om publieke deelname aan die kwessie rondom die beskerming van die Nyl/Mogalakwena Riviersisteem te bevorder.
Verskeie dorpe en landelike nedersettings in Limpopo is van die rivier en aquifer afhanklik vir watervoorsiening. Daarbenewens is die Nylvlei-vloedvlakte ‘n internasionaal erkende vleiland kragtens die Ramsar Konvensie.
Die Sentrum vir Omgewingsreg is ‘n organisasie sonder winsbejag en die nie-regeringsorganisasie WESSA het deur die Maas Maassen Fonds, wat deur die wêreld Natuurerfenisfonds administreer word, die program geborg.
Die program se doelwit was om vir gemeenskappe wat afhanklik van die riviersisteem is inligting, ondersteuning en raad te voorsien aangaande ontwikkeling wat op die rivier en vloedvlakte ‘n invloed mag hê. Werkswinkels is te Modimolle , Mookghopong, Mokopane, Mahwelereng en in die gebiede van die tradisionele owerhede van Mapela, Mokopane, Bakenberg en Zebediela gehou.
‘n Verslag wat na afloop van die program beskikbaar gemaak is, noem dat die vloedvlakte vanaf Modimolle in die suide tot Noord van Mokopane in die noorde strek. Die vloedvlakte bestaan uit alluviale neerslae ongeveer 6km wyd, 35m diep en 70km lank. Die totale vloedvlakte beslaan 450km2.
Die vloedvlakte word beskou as een van SA se belangrikste bewaringsgebiede aangesien dit groot hoeveelhede voël-, reptiel-, soogdier-, amfibeë-, vis- en insekspesies onderhou. Weens neerslae van sytakke van die Nylrivier noord van Mokopane, stoot die rivier terug in ‘n suidelike rigting wat ‘n terugvloei van water veroorsaak. Die verskynsel word as uiters raar in SA beskou. Die interaksie tussen grond en oppervlakwater skep ‘n unieke ingewikkelde sisteem wat onderling verbind is. Ondergrondse water daarin het oor ‘n periode van 230 000 jaar opgebou en word seisoenaal aangevul.
Slegs twee ander soortgelyke stelsels bestaan in SA en verskil aangesien beide in hoë reënvalstreke geleë is. Kragtens die verslag is dit belangrik dat die riviersisteem as ‘n eenheid beskou en bewaar bly. Derhalwe kan ontwikkeling op enige plek langs die vloedvlakte, wat ‘n invloed daarop het, die sisteem in geheel bedreig.
Daar is tans, behalwe vir die bestaande myne, agt aansoeke om te prospekteer en myn langs die vloedvlakte. Dit blyk volgens die verslag, dat die waterverbruik van een myn per dag, gelykstaande is aan die gesamentlike verbruik van Mogalakwena, Mookgophong en Modimolle munisipaliteite saam.
Mynbou bedreig veral die kwaliteit en hoeveelheid van beskikbare water. Benewens die invloed van die verlies aan water op die omgewing, is die sosio-ekonomiese en kumulatiewe gevolge daarvan aspekte wat belanghebbendes bekommer. Daar behoort luidens die verslag aan gemarginaliseerde arm gemeenskappe woonagtig in die nedersettings in Mapela, Mokopane en Bakenberg tradisionele owerhede se behoeftes voorkeur verleen te word.
Ander gemeenskappe insluitende besproeiingsboere en munisipaliteite ontvang water uit dieselfde bron. Belanghebbendes is uiters besorg dat verskeie mynprojekte verreikende gevolge mag hê op die natuurlike omgewing en op inwoners in die gebied.
Sylvania Platinum is tans besig met ‘n omgewingsimpakstudie vir voorgenome oopgroef mynbou op die plase Zoeteveld en Volspruit ongeveer 20km Suid van Mokopane.
Noord van Mokopane prospekteer Platreef Resources (Edms) Bpk reeds ‘n geruime tyd in die gebied van die Mokopane Tradisionele Owerheid.
Hilary Knight van die Mokopane Besigheidskamer en haar man, Wayne, sê hulle is veral bekommerd oor die feit dat Sylvania se beplande myn onder die 50-jaar vloedlyn lê. Hulle is bekommerd dat die myn die vleiland sal dreineer.
Die gebied rondom die vloedvlakte is deurspek met foutlyne wat onder meer die warmbronne naby Mookgophong voer. Die Knights meen die myn ignoreer baie van hierdie inligting in sy impakstudie en dat die myn nie wyd genoeg konsulteer om seker te maak insette word van al die geaffekteerde partye gekry nie. Daar is ook kommer oor waar die beoogde myn sy water vandaan gaan kry. Al die beskikbare water is reeds aan boere en munisipaliteite toegeken.
Beeld het verlede maand berig dat Sylvania bewus is van die gemeenskap se besware, maar dat die mynhuis nie bereid is om sy planne vir die Nyl vloedvlakte te heroorweeg nie.
0 Comments