<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Die Kolonel se rommel die wêreld vol

 
Hope van KFC se afval lê gestort op ‘n leë erf skaars ‘n blok van die restaurant af.
News : 11 Jun 2012 372 Viewed By Jasper Raats 0

MOKOPANE - Twee lede van KFC se area en streeks-bestuurspanne het hulle Dinsdag na Mokopane gehaas om ondersoek in te stel na die onwettige storting van KFC-rommel in ‘n leë erf skaars ‘n blok van die naaste KFC-tak af.
Dit volg nadat die munisipaliteit ‘n brief aan die eienaar van die erf, ‘n bekende prokureur van Mokopane, gestuur het waarin hy versoek word om die erf skoon te maak. Gido de Mendonca is gekontrakteer om die erf skoon te maak, maar kry toe hope KFC-rommel wat wissel van leë speseryhouers tot die plastiek waarin honderstukke verpak word.
Hy het na die KFC-tak op die hoek van Thabo Mbeki-laan gegaan om te hoor hoekom die winkel se rommel op sy kliënt se perseel gestort word. Een van die bestuurders het hom meegedeel dat dit straatkinders is wat saans die restaurant se rommelsakke uit die toesluit-asblikkamer steel en dan na die leë erf dra waar hulle dit deurgaan op soek na stukkies afvalkos.
“Ek sluk maar swaar aan daardie storie,” sê De Mendonca. “Watter straatkind gaan elke aand tussen agt en nege swartsakke 300m ver dra om vir ‘n stukkie hoender te soek? Straatkinders sal eerder die sakke daar in die asblikkamer stukkend skeer as hulle kos soek.”
Boonop wys hy daarop dat daar geen trapmerke of ander tekens is dat iemand saans oor die asblikkamer se muur spring nie.
Selfs Elvis Sekhula en Shaun Nair van KFC se streek- en areakantore stem saam dat die storie nie heeltemal klop nie. “Ons sal hierdie saak ondersoek en seker maak die skuldiges ry aan die pen,” het Sekhula Dinsdag aan Noordelike Nuus gesê.
Hoewel die twee nie bereid was om hulle te verbind tot ‘n finansiële bydrae tot die skoonmaak van die gemors nie, het hulle aangebied om hul eie mense te bring om die gemors skoon te maak indien so iets weer gebeur.
Intussen het Sekhula gevra enige iemand wat 'n idee het wie die KFC-rommel na die erf op die hoek van Kruger en Hoogestraat neem moet hom of Nair asseblief kontak. Sekhula kan geskakel word by 082 452 5351 en Nair by 082 383 2186.

 

 

 
 

Gido de Mendonca vra een van die plaaslike takbestuurders oor rommel wat buite die toesluit-asblikkamer ophoop.
Hope van KFC se afval lê gestort op ‘n leë erf skaars ‘n blok van die restaurant af.
 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube