-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Meer as 30 000 mense het hierdie jaar die Bosveldfees in Lephalale besoek, ‘n besoekerstal wat volgens Marié Seegers, die voorsitter van die Bosveldfeeskomitee, alle vorige rekords oorskry.
“Al die kunstenaars wat tydens die fees opgetree het, uitstallers, asook die mense van die Fiesta KykNet-span is beindruk. Volgens hulle is dit een van die bes-georganiseerde dorpsfeeste of skoue.”
Baie plattelandse feeste gaan tot niet as gevolg van finansiële en ander probleme. Tog is daar feeste soos die Bosveldfees en Mokopane se Kierieklapper Kunstefees wat jaarliks van krag tot krag groei.
Volgens Seegers is die koste om so ‘n fees aan te bied astronomies. “Om jou ‘n idee te gee van uitgawes - Die vermaak-rekening (kunstenaars) was hierdie jaar R500 000+ en die tent alleen amper R100 000. Ons huur die hele Mogolklub teen ‘n aardige bedraggie. Dis vreeslike bedrae geld! Nadat al ons uitgawes betaal is, sit ons ‘n bedrag weg om volgende jaar mee te begin en daarna kyk ons waarvoor ons die oorblywende geld gaan aanwend. Ons het verlede jaar ‘n tuisrekenaarstelsel aan ‘n kind geskenk wat breinkanker het en tot die Pippie-fonds en ander kanker pasiënte se kostes bygedra.”
Die Bosveldfees het ook ‘n geleentheid geskep vir Laerskole Ellisras en Bosveld Primary om fondse in te samel deur hekdiens te doen. Seegers verduidelik: “Ons gee vir die skole ‘n sekere persentasie van die hekgelde. Ons hou net genoeg om volgende jaar weer af te skop. Dié twee skole het verlede jaar elk R65 000 by die fees gekry!
“Ons sal later bekendmaak wat hul hierdie jaar kry. So het die Landbou unie (Agri Lephalale) hierdie jaar die biertent beman en hulle sal weer daarvoor ‘n bedrag ontvang.”
Seegers sê gerugte dat die hekke op Saterdagaande oopgemaak word vir gratis toegang is onwaar, maar doen elke jaar die rondte. “Die hekke word om 22h00 gesluit vir toegang. Ons het hierdie jaar om 21h30 toegemaak aangesien daar ‘n vreeslik lang ry was. Oor die algemeen was die gees by die fees besonder, wel, feestelik! Sekuriteit het ook baie goed afgeloop. Ons maak gebruik van Molalatau Sekuriteit en hulle ontsien werklik geen kostes om uitstekende sekuriteit vir die Fees se verseker nie.”
0 Comments