-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - Verskeie paaie word tans in Lephalale deur Eskom en Exxaro opgegradeer.
Die gedeelte van die R510 vanaf Nelson Mandela Rylaan tot by die R33 (die nuwe Vaalwater pad) afdraai sal tot 10 Oktober weens padwerke gesluit wees.
Verkeer word tans herlei na Wellsstraat agter die Palm Park Hotel verby.
Die pad sal op ‘n gereelde basis deur kontrakteurs gediens word. Bouwerk aan die Kuipersbultpad het ook reeds begin met die doel om swaarvervoer daarlangs te herlei om te keer dat paaie in die dorp tot niet gaan. Dié pad behoort in Maart 2013 voltooi te wees.
Boere sal dalk tot 2015 moet wag om ‘n verbetering in die toestand van grondpaaie in die Bosveld-omgewing te sien.
Volgens Gawie van Zyl van Agri-Lephalale is daar by ‘n onlangse provinsiale vergadering aangekondig dat die begroting vir die paaie en vervoerdepartement nie goedgekeur is nie.
By hierdie week se landelike veiligheidsvergadering het die hoof van die plaaslike departement, Isaac Modjadibodu bevestig dat begrotingstekorte daarvoor verantwoordelik is dat paaie nie geskraap word nie.
Volgens Modjadibodu is die provinsiale departement onder administrasie geplaas en sal daar eers weer in 2015 begroot kan word om skrapers te herstel. Van die vier skrapers is slegs een tans in ‘n werkende toestand.Verdere besnoeïngs beteken dat die departement se toelaatbare kilometers op hul voertuie vanaf 3 000 km per maand na 2000km per maand gesny is.
By die vergadering het Van Zyl gesê dat die saak nie daar gelaat kan word nie. Boere se lewens is voortdurend in gevaar weens die swak toestande van paaie en Agri-Lephalale onderneem om die saak tot op die hoogste vlak te neem.
0 Comments