<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Plaasmoord-verhoor neem dramatiese wending

 
News : 31 Aug 2012 145 Viewed By Jasper Raats 0

Die verhoor van ‘n vermeende plaasaanvaller het vandeesweek ‘n dramatiese wending geneem toe die beskuldigde beweer het die vermoorde man se vrou het hom geld aangebied om haar man te vermoor.
Dennis Moyo (37), ‘n Zimbabwiër wat daarvan beskuldig word dat hy in 2002 ‘n bekende boer van Pontdrif vermoor het, het Maandag en Dinsdag in die Rondgaande Hooggeregshof op Makhado (Louis Trichardt) verskyn. Hy word aangekla van moord, huisbraak met die opset om te roof en roof met verswarende omstandighede.
Destyds is daar berig oor dié moord, wat die Pondrift-boeregemeenskap tot in sy fondamente geskud het.  Volgens inligting is die 51-jarige mnr. Rudi Schmidt en sy vrou, Corlia, na bewering deur Moyo in die vroeë oggendure in hul plaaswoning oorrompel.
Maandag het dit, by monde van Moyo se regsverteenwoordiger, aan die lig gekom dat Moyo van plan is om te kom getuig dat Corlia hom geld aangebied het om haar man te vermoor. Corlia, wat vir die Staat getuig het oor wat gebeur het die aand toe haar man dood is, het dié aantygings teen haar ontken.
Insake daardie aand se gebeure het sy getuig dat sy wakker geword het toe ‘n staallem teen haar gedruk is. ‘n Gemaskerde indringer het langs die egpaar se bed gestaan. Terwyl sy naarstigtelik probeer het om haar vuurwapen uit haar handsak te grawe, het die aanvaller glo begin om haar man te takel. Die struweling tussen die twee het van die kamer na die kombuis gevorder.
Corlia het getuig dat sy in die warboel nie haar vuurwapen kon kry nie en toe kombuis toe is om die ketel aan te sit om die aanvaller met kookwater te gooi.
“Ek het onthou dat ek iewers gelees of gehoor het dat mens indringers kan afskrik met kookwater,” het Corlia gesê.  Schmidt het glo intussen daarin geslaag om die aanvaller te verdryf, maar het op die toneel beswyk aan ‘n borswond.
Moyo is eers in Mei verlede jaar vir ‘n tweede keer aangekla van die moord op Schmidt, nadat hy in 2002 aan die Zimbabwiese owerhede uitgelewer is.
Tien jaar het verloop voordat Moyo weer aan Suid-Afrika uitgelewer is en weer aangekla kon word.
Teen druktyd moes Corlia nog klaar getuig. Daar sou na verwagting nog twee getuies vir die Staat kom getuig het teen Donderdag.
‘n Uitsteldatum was nie bekend nie. (LiN Nuus / Zoutpansberger)

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube