-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
LEPHALALE - ‘n Vrou van 28 is Sondagoggend net na 04h00 op die bouperseel van die nuwe Lephalale Mall deur sewe mans vasgekeer en verkrag.
Volgens polisiewoordvoerder, AO Frans Mokoena het die mans die vrou, wat oppad was na die Sasol-motorhawe, voorgekeer en in een van die sinkhuisies op die bouterein ingeforseer.
Sy is later toegelaat om water buite die gebou te gaan drink. Een van die mans het volgens die polisieverslag vir haar ‘n selfoon gegee om haar pad in die donker na die kraan te vind. Sy het die polisie gebel wat kort daarna sewe Zimbabwiërs op die toneel gearresteer het.
Volgens AO Mokoena beweer die mans, wat tans in aanhouding is, dat hulle behuising op die perseel teen R300 per persoon huur.
Steph Beyers, woordvoerder vir die Moolmangroep, wat die winkelsentrum ontwikkel, het Dinsdag aan Noordelike Nuus gesê dat hulle geen kennis van die voorval dra nie. Volgens hom mag daar geen werkers buiten sekuriteitspersoneel op die perseel slaap nie.
Die boukontrakteur, Boogertman Smit, se Herbie de Wet sê die perseel is snags gesluit met 24-uur sekuriteit. “Ons het geen buitelanders wat hier op die perseel werk of slaap nie, al die werkers het Suid-Afrikaanse ID dokumente. Ons deursoek dikwels snags die perseel om seker te maak dat niemand ongenooid in die sinkhuisies slaap nie. Ons sal verseker die saak ondersoek.”
Die vrou is na die voorval by die Ellisras hospitaal opgeneem waar daar bevestig is dat sy wel verkrag is en dat haar arm in die voorval gebreek is. Die sewe Zimbabwiërs het Woensdag in die hof verskyn.
0 Comments