<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Sandmynery weer onder loep

 
News : 03 Sep 2012 224 Viewed By Valerie Cilliers 0

Die sandmynery in die Mogolrivier het hierdie week onder die vergrootglas gekom toe die natuurprogram 50/50 oor mynery se impak op die rivier verslag gedoen het. Die program het ‘n ou debat weer laat opvlam tussen dié wat glo dat die mynery onmiddelik gestaak moet word en ander wat voel dat die myners nie hulle plekkie in die son gegun word nie.
Noordelike Nuus het met oewer-deskundige en ‘n stigtersraadslid van die Vleiland Genootskap van Suid-Afrika, Paul Fairall, gesels oor die saak. Hy erken dat die sandmynery in die Mogolrivier ‘n emosionele saak is. “Waar water betrokke is, hardloop gemoedere soms baie hoog. Die feit is dat Suid-Afrika tans binne in ‘n waterkrisis sit, dit is van uiterste belang dat ons na ons riviere omsien.”
Volgens Fairall is die waterkwessie in Lephalale soos die Engelse sê ‘a comedy of errors’, waar onkunde binne die department van omgewingsake en ook aan die kant van sandmyners reeds baie skade veroorsaak het.
“Die Mogolrivier is ‘n fluviaal aquifer, ‘n unieke waterstelsel wat in baie droë dele van die land voorkom. Die stelsel is meer as 30-miljoen jaar oud met water wat baie stadig deur die filtrerende sand oppad na die Limpoporivier beweeg. Die sand verhoed dat die water verdamp en verseker dat daar water vir diere en boere in droë tye is.
In die 50/50 program het een van die sandmyners, Leon Fourie, gesê die mynery is voordelig vir besproeingsboere omdat daar nou meer water in die Mogolrivier is as gevolg van die mynery. Hy het verduidelik dat die sand die water absorbeer en dat sodra die sand uitgehaal word, water in groter volumes beskikbaar is vir besproeiing. Verskeie boere in die omgewing het met hom saamgestem en voel dat die mynery moet voortgaan.
Fourie het hierdie week aan Noordelike Nuus gesê dat hy ‘n omgewingsbestuurder, James Coetzee, aangestel het om te verseker dat die mynery binne regulasies geskied en dat die ekologie reg bestuur en beskerm word. Coetzee was glo voorheen die hoofnatuurbewaarder vir die Mpumalanga Parkeraad.
Volgens Fourie is daar ook ‘n span onafhanklike opmeters wat van Pretoria wat kom om elke drie maande opmetings doen. Hul verslae wys dat daar ‘n variasie van minder as 10% in die watervlak van die rivier is en dat die karakter van die rivier nie weens sandmynery verander word nie.
“Die Mogolrivier is maar ‘n klein deel van ‘n baie groot aquifer en die gate wat plek-plek gegrou word om sand uit te haal het minimale impak op die hele sisteem.”
Volgens Fourie het die departement van waterwese in 2010 verskeie boorgate langs die Mogol gesink om die toestand van die aquifer te bepaal. Die studie het gewys dat die aquifer in ‘n besonderse goeie toestand is.
Maar Fairall verduidelik dat hoe meer sand uit die rivier gemyn word, hoe vinniger beweeg die water weg. Indien die sandmynery onverpoost voortgaan sal reënwater in die reënseisoen binne drie weke in die Limpoporivier wegvloei.
Fairall het saam met ‘n span deskundiges waaronder, Piet-Louis Grindling, voorsitter van die internasionale veenbewaringsgroep en Gary Maneveck - volgens Fairall glo die beste oewer-deskundige tans in Suid-Afrika, vir dae lank die Mogolrivier ondersoek. Hy meen dat die department moes moes aangedring dat ‘n soortgelyke span eers ‘n studie doen voordat lisensies uitgereik is. “Hierdie kenners sou vir hulle gesê het dat die sandmynery die Mogolrivier vernietig.”
“Sand word al jare uit die Mogolrivier uitgehaal vir bouwerk, die fokus val egter nou op die sandmynery omdat dit in so ‘n groot maat geskied. Die watervlak in die rivier het reeds weens bouwerk aan die dorp, Matimba en nou Medupi tussen 14m en 40m gesak. Diegene wat bekommerd is oor die rivier het reg om bekommerd te wees. Die skade wat reeds aangerig is gaan dekades neem om te herstel,” meen hy.
Maar hoe nou gemaak? Medupi moet gebou word en bouwerk in Lephalale self gaan voort.
Fairall meen dat die Staat en Eskom hulle aandag eerder op die Mokolodam moet vestig.
“Daar is meer as genoeg sand in die dam om Medupi klaar te bou. Die sand is ook baie meer suiwer as die rivier se sand. ‘n Baggervlot kan binne ‘n paar weke opgerig word om groot hoeveelhede sand uit die dam te stoot.”
Fairall meen dat dit voordelig vir watervoorsiening sal wees aangesien die departement van waterwese se nuwe pyplyn wat water uit die Mokolodam vir die Medupi-projek gaan neem, groot watertekorte in die gebied kan beteken. Sandmynery uit die Mokolodam sal die dam se kapasiteit vergroot.
Die department van omgewingsake se Albi Modise het hierdie week aan Noordelike Nuus bevestig dat sandmynery in die Mogolrivier ondersoek word. Hy sê dat die department aanvanklik eers ondersoek gaan instel oor die uitreiking van lisensies. In die verband is inligting van myners aangevra en ontvang.
Die ondersoek sal bepaal of regulasies volgens die NEMA-wetgewing deur sandmyners nagekom is, indien dit nie die geval is nie sal die myners en maatskappye wat die sand koop regtelik vervolg word. Hy sê as deel van die ondersoek sal die impak van die mynery op die rivier in terme van die NEMA-wetgewing bepaal word.
Op ‘n vraag of die nasionale regering sal ingryp in die provinsiale lisensiërings- prosesse, sê Modise: “Nee, maar die department van omgewingsake gee egter gereeld terugvoer oor die bevindinge van die ondersoek wat binnekort voltooi behoort te wees.”
Fourie myn tans onder 14 permitte wat elk 1.5ha se myngebied dek. Hierdie permitte is net vir ‘n jaar geldig, dus doen sy maatskappy nou aansoek om ‘n ander mynlisensie wat hul sal toelaat om altesaam 20km van die rivierloop te myn. Hierdie lisensie-aansoek is ook vir ‘n ander mynmetode wat, volgens Fourie, meer omgewingsvriendelik is en behels dat slegs sand wat bo die watervlak voorkom oor ‘n groter gebied gemyn word. Hierdie mynregte lisensie word tans teengestaan deurlede van die gemeenskap wat glo dat die rivier daaronder sal ly indien mynregte toegestaan word.
Volgens Fourie konsulteer hy gereeld met boere in die omgewing en tree sy maatskappy nie roekeloos teenoor die rivier se ekologie of die Lephalale gemeenskap op nie. Fourie bied ook 'n ope uitnodiging aan enigeen wat bekommerd is oor die impak van die sandmynery om sy Chobe kantore in Lephalale te besoek om na die impakstudies en moniteringsverslae te kyk.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube