<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

DUIMTAAL: SNELSKRIF VAN DIE 21STE EEU

 
News : 06 Sep 2012 1032 Viewed By Marie Hurter 0

In my eie lekestudie het ek ‘n paar hoërskoolleerlinge gevra om ‘n stukkie Afrikaanse teks in duimskrif te skryf. Opvallend was dat almal verskillende verkortings gebruik het en dat hulle dit baie moeilik gevind het om duimskrif met ‘n pen op papier neer te skryf. Hulle sê dit voel nie reg nie. Hier’s die kortste weergawe:
Hi hu gnt wmj vnand? J ls vi kyr? Wi ng vra gn kyr iwes.
Vertaling: Hallo, hoe gaan dit? Wat maak jy vanaand. Is jy lus vir kuier? Wie gaan ons nog vra dan gaan kuier ons iewers.
Dis nie eers slegte spelling nie, dis geen spelling nie, maar SMS-taal is kommunikasie en hou daarvan of nie, dis deel van ons lewe in die 21ste eeu. Die doel van hierdie erg verkorte skryfvorm is suiwer ekonomies, dit spaar tyd en geld, veral op ‘n selfoon.
Hierdie taal staan ook bekend as ”leetspeak”, “Online jargon”, “netspeak”, “Nu English”, of “Chat Room Shorthand”.
Akronieme is lank reeds deel van rekenaarkultuur en -kommunikasie. Voorbeelde hiervan is AAK (Asleep At Keyboard) GR8 (great), B4N (Bye for now), en was aanvanklik meestal in hoofletters geskryf, maar dit is deesdae nie “netiquette” om net in hoofletters te skryf nie, want dit beteken mens SKREE. Meer aanvaarbaar is bv. cu (see you) of g2g (got to go), ens.
Verdere verkortings en vereenvoudigings van woorde ontstaan daagliks en word oral gebruik in geselskamers, op blogs, webwerwe en natuurlik op selfone.
Nuwe tegnologie het noodwendig nuwe woorde tot gevolg. My Afrikaanse woorde vir selfoon sms-taal is duimtaal of duimskrif omdat dit teen ‘n geweldige vinnige spoed met een of altwee duime getik word – hou maar die kinders dop. In baie opsigte is dit soos tik. Wanneer die kuns bemeester is, het die brein die geheuepaadjie tussen vingers en toetse gevorm en kan dit omtrent toe-oë gedoen word. Daarom dat kinders kan duimskryf terwyl hulle met mekaar gesels en TV kyk.
Een van die bekendste studies wat tot dusver in hierdie verband gedoen is, is deur Dr Nenagh Kemp van die Tasmania Universiteit in Australië. Sy is ‘n spesialis op die gebied van taalsielkunde en haar navorsing is spesifiek gefokus op taalontwikkeling en grammatikale begrippe by kinders. Haar navorsing dek alles vanaf geletterdheid, grammatikale ontwikkeling vanaf geboorte tot volwasse stadium en die vroeë opsporing van taalprobleme.
Na aanleiding van wye media- en onderwys bewerings dat sms-taal kinders se spelling ruïneer, het Dr Kemp ‘n studieprojek gelei oor die gebruik en doeltreffendheid van sms-taal en die teks, of soos sy dit noem “textisms” wat gebruik word. Voorgraadse studente is gevra om sms’e in gewone Engels en in duimskrif te skryf en voor te lees.
Bevindings uit hierdie projek dui daarop dat dit wel baie vinnig is om duimskrif te skryf, maar uiters moeilik om dit te lees, of selfs te verstaan, aangesien almal verskillende textisms gebruik. Ook dat daar geen korrelasie is tussen die gebruik van duimskrif en swak lees- of spelling in kinders nie.
Wat wel uitgestaan het soos ‘n paal bo water is dat dié studente met ‘n beter taalkennis en -begrip, wat die klank en grammatikale struktuur van ‘n taal beter verstaan, dié studente is wat beter en meer verstaanbare afkortings in duimskrif gebruik het, wat ook die maklikste gelees het.
Wat maar weereens bewys dat mens eers die reëls moet ken en verstaan voor mens dit kan verbreek.
Ek was aanvanklik baie erg oor korrekte spelling in duimskrif, maar sien nou ‘n uitdaging daarin om te kyk hoe kort ek ‘n woord kan skryf sodat die ontvanger (en hierin lê die sleutel): dit kan lees en verstaan. Ook natuurlik sodat my jongste nie my selfoon gryp en my sms vinniger wil tik as ek nie.
Dit gesê is ek bly dat “netiquette” ook voorstaan dat duimtaal beperk word tot selfone, geselskamers op die internet en baie spesifieke rekenaaromgewings. Dit is gelukkig nog nie aanvaarbaar in e-posse, briewe of in klaskamers nie en hopelik sal daar weldrae ‘n eenvormige en maklike duimtaal ontwikkel wat nie net maklik is om te skryf nie, maar veral om te lees.
‘n Interessante webwerf om te besoek is Netlingo, die Engelse internetwoordeboek waar lyste van akronieme en verkorte woorde gereeld opgedateer word. Daar sal jy ook die nuutste statistieke kry oor cyber- en internetveiligheid.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube