-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dalk is dit omdat hierdie grappie so naby aan die waarheid sny dat baie ouens lief is om smalend te vertel hoe hulle nie visvang nie, maar “sommer by die huis drink.”
As jy my vra is dit ‘n ou bitterbek-verskoning deur manne wat een of twee keer probeer het en niks gevang het nie, of net regtig hou van drink eerder as visvang.
Hoe dit ookal sy, sulke kêrels moet dan maar eerder by die huis bly. Ware hengelaars neem hul stokperdjie ernstig op, party beoefen dit selfs as ‘n sport en nie een van hulle hou van daarvan om hul oewers en hengelwaters met ‘n klomp raserige suiplappe te deel nie. Ongelukkig is die raserige suiplappe dikwels deel van die realiteit – nugter weet waarom hulle nie maar soos die ou bitterbekke by die huis wil drink nie.
Wat interessant is, is dat ek nog nooit die bitterbek-verskoning uit ‘n vrou se mond gehoor het nie. En moenie vir my vertel dis omdat die skoner geslag nie lief is vir alkohol nie, ek ken ‘n paar dames wat by die dorstigste manne kan kers vashou.
Nee, ek dink vrouens het dalk bietjie meer ‘beginner’s luck’ soos die Engelse dit noem en is geneig om iets te vang selfs wanneer die hardebaard hengelaars wat hulle op hul eerste uitstappie touwys maak, met leë hande terugkeer. Hulle het dus geen rede om sommer van meet af bitter te wees teenoor die sport nie.
Wat wel interessant is, is dat die dames nogal kieskierig is oor watter hengeldissipline hulle verkies. Noordelike Nuus se medewerker, Christie Thomas, lê haar by voorbeeld uitsluitlik toe op baarshengel, my eie bruid verkies vlieghengel en vriendin Ashleigh sê vir haar is dit oewerhengel of niks.
By die meer harige geslag is die lyne nie so duidelik nie. Selfs die ouens wat as hengel as georganiseerde sport beoefen skroom nie om so nou en dan hul tone in ‘n ander dissipline se water te druk nie. Ou Nico en Jan-Barend Kruger, twee toegewyde Ligtegerei-Boothengelaars, skroom by voorbeeld nie om wintermaande op Doorndraai dam se oewer te sit en hengel vir trofeekarp nie.
As daar iets soos ‘n ondersteuningsgroep vir hengelverslaafdes was sou ek daar moes opstaan en sê: Ek is Jasper, ek het ‘n probleem. Ek is ‘n “visvang-fopdosser” wat my onderbaadjie vol sakke so gemaklik op forelwater dra as wat ek my breë-rand hoed en ou leersandale op Arabiedam se oewer dra. Ek is nie skaam om een van daai stywe langmouwessies vir sonbeskerming onder my lewensbaadjie op die kajak te dra nie en hoe ‘n donkerbril lyk maak vir my geensins saak nie – solank hy geopolariseerde lense het.
Ek sou by so ondersteuningsgroep moes bieg dat ek meer visstokke besit as wat ons messe en vurke in die huis het. Ons vrieskas is vol grondvoer vir karp en moddervis, daar is ‘n rakkie met gevriesde hoenderhartjies vir baber. Wat in ander huishoudings die studeerkamer is, is in ons huis die kunsaas vertrek met ‘n boekrak vol vere, stukkies pels, gare en gom vir die knoop van kunsvlieë.
Wat sou jy moes opstaan en bieg as jy by daardie ondersteuningsgroep aangesluit het? Watse tipe hengelaar is jy?
0 Comments