-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Ackermans klerewinkel in Lephalale is Maandagoggend net na 09:00 van
duisende rande se kontant beroof.
Volgens polisiewoordvoerder, A.O. Frans Mokoena was die bestuurder van die winkel en ‘n personeelid op die punt om te vertrek na die bank om die naweek se se geld te gaan deponeer, toe twee gewapende mans hulle in die kantoor vaskeer.
Een het vir hulle ’n vuurwapen wat hy onder sy hemp versteek het gewys en beveel om die tas te oorhandig. Hy het vinnig die geld uitgehaal en in sy klere versteek waarna die twee te voet gevlug het.
Een van die mans het ‘n denimhemp en broek aangehad, terwyl die ander ‘n oranje en wit gestreepde hemp en groen broek gedra. Nie een van die verdagtes kon egter op die sekuriteitskameras geidentifiseer word nie en teen druktyd was nog niemand in verband met die roof gearresteer nie.
In ‘n aparte voorval is die Old Fashion Fish and Chip winkel in Marapong geteiken. Die verdagtes, wat vermoedelik in ‘n dubbelkajuit Toyota bakkie gery het, het ‘n kluis met plofstof probeer oop kry. Die R8 000 wat in die kluis was is in die proses vernietig en die rowers moes met leë hande op die vlug slaan. ‘n Wag van Molalatau Sekuriteit het onmiddelik alarm gemaak, maar die rowers was teen druktyd nog op vrye voet.
Sondag is daar ook By Kosland ingebreek. Volgens Andries Bester van Molalatau Sekuriteit het die verdagtes op die dakbalke geloop om te verhoed dat die alarm geaktiveer word. Die mans het met R5 000, wat hulle in een van die kantore gekry het, op die vlug geslaan.
Daar is ook verlede week by Choppies in die Marula Mile winkelsentrum ingebreek, maar niks is gesteel nie.Volgens Deon Bauermeister van Choppies het inbrekers deur die dak probeer kom deur die alarmstelsel se drade te sny. “Ons stelsel werk gelukkig so dat sodra daar aan die drade gesny word gaan die alarm net harder af. Dit het hulle afgeskrik en hulle het op die vlug geslaan.”
Theo Pistorius van Molalatau Sekuriteit sê dit was een van die ergste naweke wat misdaad betref in baie jare. “Ons vemoed dat hierdie mense van elders in die land inkom en besighede dophou om te sien waar hulle kan toeslaan. Hulle weet wanneer geld vervoer word en hulle weet waar alarm sensors en kameras aangebring is. Dit was ‘n baie suksesvolle naweek vir die inbrekers en rowers, wat beteken dat hulle verseker terug sal kom. Besighede sal meer paraat moet wees deur bv. stelsels soos noodknoppies in hulle winkels te installeer,” het hy gesê.
0 Comments