-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dit is agt uur. Die klaskamer staan gereed. Die bus met die skool kinders het ge-ariveer en die ‘onderwyseres’ is reg om met die eerste les te begin.
Dit is Vrydag, 14 September 2012, ‘n gewone skool dag, maar leerders van LEWENSGELUK OPVOEDKUNDIGE HULPSENTRUM, Lephalale, sit nie agter lessenaars nie. Vandag is die dak van die ‘klaskamer’ die blou hemel, die mure die natuurskoon van die Mokolo Dam Natuurreservaat, die sand onder ons voete die lessenaar, en die helderskoon water die swart bord. Vandag gaan die kinders leer om swartbaars te vang!
Die kurrikulum is eenvoudig: les 1 – hoe om ‘n sagte plastiek kunsaas reg aan die hoek te sit, les 2 – hoe om ‘n doeltreffende knoop te maak, en les 3 – hoe om ‘n swartbaars te vang.
Die kinders raak gou kriewelrig, en kort-kort swaai die koppe water se kant toe. Dit is tyd om te kyk wie het opgelet. Daar is ‘n prys vir die grootste baars, en met díe motivering is dit ‘n wedloop na die water se kant om eerste lyn nat te maak. Twee bote staan ook reg om die kinders vir half-uur sessies uit te neem op die dam. Binne die eerste 15 minute is daar ‘n kreet langs die water. ‘n Vis is gevang. Die skaal word uitgehaal, en die vis amptelik ingeweeg op 0.640g. Nou is die peil gestel, en elke kind werk hard om ‘n groter vis te vang.
Ek is beindruk met hierdie kinders. Hulle is almal goed gemanierd, doelgerig, en gefokus. Die dag raak lank, en die baars is lui om kunsaas te vat, maar niemand gee op nie. Hier en daar kom ‘n klein vissie uit, maar nie genoeg om die eerste vis te verbeter nie. Ek verduidelik: geen toernooi is verby totdat die laaste sand uit die uurglas geloop het nie. ‘n Wen vis kan in die laaste vyf minute van enige toernooi nog gevang word, maar geen vis kan gevang word as die kunsaas nie in die water is nie.
Die dag staan einde se kant toe, die kinders is moeg, gesiggies rooi gebrand, maar die oë glinster. Selfs die meisiekinders het ontdek, tot hul verbasing, dat dit eintlik lekker is om vis te vang. Die bote kom in. Die laaste visvang sessie het ook nou tot ‘n einde gekom. Ek sien glimlagte, breë skouers – twee visse is gevang en moet geweeg word. Hier kom ‘n ding! Die breedste glimlag dink sy vis kan aanspraak maak op die titel, hy trippel rond soos ‘n skouperd. Die skaal word uitgehaal, die vis gehak, almal hou asem op – die syfers kom tot stilstand – 1.03kg!
Ek kon die dag nie beter beplan het nie – ‘n lewensles is geleer, ervaar, en prakties uitgebeeld langs die water – AANHOUER WEN! NEVER GIVE UP!
0 Comments