-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Min mense in Mokopane ken nie vir Wynand Welgemoed nie. Hy is die ou met die breë glimlag wat ‘n mens gereeld op weeksdae by die Nylpark Videowinkel raakgeloop het, en Saterdae kon jy hom maar by die gholfbaan gaan soek.
Deesdae sal jy hom enige dag van die week by die gholfbaan kry. Hy is die nuwe bestuurder van Mokopane se Kameeldoring Buiteklub.
Wynand is in Mokopane gebore, hy het in 1986 hier gematrikuleer en het na skool aat die Tegnikon Pretoria, deesdae bekend as Tswane Universiteit van Tegnologie, bemarking gaan studeer.
Na sy studies het hy teruggekom na sy tuisdorp toe waar hy sy suster Jeanette uitghehelp het by Nylpark Kafee voordat hy sy broodafleweringsbesigheid, Bread on Wheels, begin het.
Maar Wynand is ‘n mense mens. En brood aflaai maak die lewe dalk gerieflik vir baie mense, maar dit is nie juis ‘n sosiale werk nie. Hy het toe die Potties rugbyklub gaan bestuur en nadat die munisipaliteit die huur van die fasiliteite skerp verhoog het, het die rugbyklub en die klubgronde tot niet gegaan.
Maar Wynand het hom nie laat onderkry nie, hy het die Bull Bar by die Skougronde oopgemaak en later het Trevor Els dit oorgeneem en Trevor’s Pub & Grill is daaruit gebore.
Wynand en sy vrou Carli het Nylpark Videos toe in 2007 gekoop.
As kranige gholfspeler en lid van die Kameeldoring Buiteklub se bestuurskomitee het Wynand besluit om aansoek te doen vir die pos van klubbestuurder nadat De Wet Kruger die klub vroëer vanjaar verlaat het.
Die klubkomitee het gou besef meer as een man gaan nodig wees om Kruger se skoene vol te staan en die bestuursfunksies is verdeel tussen ‘n baanopsigter en klubbestuurder. Manie Coetzer van Euphoria is aangestel as baanopsigter en Wynand is verantwoordelik vir lede-administrasie en spys en drank.
Hy neem die leisels oor op die vooraand van een van die grootste verwikkelinge in die geskiedenis van die klub. ‘n Gholflandgoed word eersdaags hier ontwikkel. ProudAfrique Estate, soos dit bekend sal staan gaan beteken dat sekere putjies op die gholfbaan moet verskuif, dat die hele baan opgegradeer gaan word tot internasionale standaarde en dat die klubhuis ook waarskynlik opgegradeer of vervang sal word. Vir die eerste fase gaan tussen 80 en 100 erwe wat op die baan uitkyk beskikbaar gestel word.
Lede sal eerste die geleentheid gebied word om van hierdie erwe te koop, vertel Wynand en die klub sal bly voortbestaan en in beheer van die baan, sy lidmaatskap en ander klubfasiliteite bly.
Na ‘n maand aan die stuur sê Wynand hy geniet die werksomgewing verskriklik. Sy enigste klagte is dat hy nou meer by die gholfbaan is as ooit en tog kry hy minder tyd om gholf te speel as in die verlede.
0 Comments