<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Zuma se nuwe grondplan: Staat gee 50% - wit boere die res

 
News : 26 Oct 2012 186 Viewed By NoordNuus reporter 0

‘n Nuwe grondhervormingsplan is Maandagaand deur President Jacob Zuma in Pretoria aangekondig. Zuma het by ‘n jaarsvergadering van die African Farmers’ Association of South Africa (Afasa) gesê voedselsekuriteit is hoog op die regering se agenda en dat Suid-Afrikaners moet terugkeer na die ‘grond’ om te verseker dat daar altyd voedsel sal wees.
Die voorgestelde plan is distriksgebaseer, waar elke distrik ‘n grondhervormingskomitee moet stig om 20% van die kommersiële grond in daardie distrik te identifiseer vir oordrag aan swart boere. Kommersiële boere sal die geleentheid gegun word om aandeel te hê in die hervormingsproses deur fisies by die stelsel in te koop.
Die vyfstapplan lui soos volg:
Eerstens sal grond wat reeds in die mark is, of waar ‘n boer in ‘n finansiële verknorsing is, of waar ‘n grondeienaar grond besit, maar nie fisies daar boer nie, of wat in ‘n boedel beskryf is geïdentifiseer word.
Tweedens sal die staat grond teen 50% van die markwaarde aankoop en dan geleentheid bied vir kontant bydraes van komersiële boere in die omgewing, wat vrywillig sal bydra om die verliese op te maak.
Kommersiële boere wat wel ‘n bydra maak sal beskerm word van grondonteiening omdat hulle deur hulle bydra swart ekonomies bemagtigingstatus sal verkry.
Vierdens sal die Tesourie, die Landbank en gevestigde wit boere saamwerk om finansiering daar te stel. Die moontlikheid om verbande vir ‘n tydperk van 40 jaar te registreer word ook ondersoek.
In die vyfde plek sal die regering meer belê in landbounavorsing en -ontwikkeling
In reaksie op die grondhervormingsvoorstel meen Agri-SA dat daar meriete in elemente van dié voorstel is, maar dat dit te kort skiet om billikheid teenoor alle partye te verseker.
Waarmee Agri SA saamstem is dat plaaslike komitees getaak kan word om grondhervormingsbehoeftes per distrik te bepaal. ‘n Meer omvattende finansieringsbystandpakket vir begunstigdes is ook onontbeerlik.
Maar Johannes Möller, president van Agri SA meen dat hoewel dié voorstel poog om die koste van grondhervorming oor ‘n breër basis te versprei, dit nie billik en regverdig is om die las van grondhervorming, wat in openbare belang gedoen moet word, tot ‘n groot mate op die finansiële bydraes van mede grondeienaars in ‘n distrik aangewese te maak nie.
“Die fiskus beskik oor die vermoë en behoort sy volle bydrae in dié verband te lewer, soos wat die Grondwet bepaal. Dit grens aan afdreiging om sodanige addisionele bydraes van grondeienaars te verlang in ruil vir sekerheid van grondbesit en die verwerwing van swart ekonomiese bemagtiging status. Dit laat ook buite rekening of ‘n mede-grondeienaar die finansiële vermoë het om sodanige finansiële bydrae te lewer of nie. Dit kan vir talle medium tot kleiner boerderye ‘n onhaalbare proposisie wees en derhalwe hul toekoms in onsekerheid dompel,” sê Möller.
TLU-SA se Assistant Hoofbestuurder, Henk van den Graaf sê die unie is bekommerd dat boere selfs minder as 50% van die markwaarde sal kry.
“Die regering se groenskrif vir grondhervorming dui daarop dat ‘n waardeerder generaal aangestel sal word om die waarde van grond te bepaal. Dié persoon sal ‘n staatsamptenaar wees wat sonder twyfel die waarde van grond sodoende sal manupileer om die regering te bevoordeel.
“‘n Boer wat dus sy grond aan die staat verkoop sal slegs 50% van ‘n
reeds verlaagte prys kry. Eintlik kom dit neer op onteiening of selfs nasionalisering.”
Hy meen ook dat die belofte van swart ekonomies bemagtigings status as afpersing bestempel kan word.
Volgens van den Graaf het 95-97% van alle grondhervormingsprojekte misluk en is die grond nou onproduktief. “Daar is wel swart boere wat uiters suksesvol is, dit is egter boere wat self op die vryemark grond gekoop het, so ‘n persoon wil immers boer. As die regering aanhou om grond vir sogenaamde swart boere te gee wat nie werklik wil boer nie gaan voedselsekuriteit ‘n groot probleem in ons land word.”
Hy meen ook dat die skuldlas in landbou jaarliks vergroot terwyl die winsmarge verklein. “Hoekom moet boere wat reeds finansieël swaar trek verantwoordlik gehou word as die staat nie sy verpligtinge en beloftes nakom nie.”
TLU stel ook voor dat die staat so gou as moontlik ‘n omvattende grondoudit doen.
“Daar is baie staatsgrond wat tans nie in gebruik is nie. Ek dink bevoorbeeld aan die weermagbasis in Walmansthal wat in ongebruik verval het. Hier is baie goeie landbougrond wat aangewend kan word.”
Intussen het President Jacob Zuma reaksie op sy voorstelle verwelkom.
Zuma se volledige toespraak is beskikbaar op die Noordelike Nuus webblad: www.noordnuus.co.za.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube