-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Hy was soos ons eie kind,” so vertel Gawin Cronk, die voorman op ‘n plaas net buite Lephalale waar ‘n 18-maande oue renosterbul voorverlede Woensdag gestroop is.
Cronk wat net na 07:00 die Donderdagoggend op die karkas afgekom het, sê dat die renoster aanvanklik in die bors geskiet is waarna sy horing en helfte van sy gesig met ‘n panga uitgekap is. “Dit is iets wat ek nooit weer in my lewe wil sien nie.“
“Dinsdagmiddag was die laaste keer dat ons al vyf renosters naby die huis gesien het. Ons het hulle elke middag gevoer sodat ons hulle kon tel. Toe hulle nie Woensdagaand nader kom nie het ons gaan ondersoek instel. Ons het op twee renosterkoeie afgekom wat gewond was. Aanvanklik het ons gedink dat hulle baklei het, dit het egter te donker geraak en ons kon nie verder soek nie. “Donderdagoggend het ons op die karkas van die bulletjie afgekom en toe eers besef dat stropers op die koeie ook geskiet en drie van hulle gewond het.
Uit die ondersoek wil dit voorkom of twee stropers met ‘n kleinerige kaliber geweer op die renosters geskiet het.
“Dit lyk vir ons of hulle nie regtig geweet het wat hulle doen nie. Woensdag was donkermaan en stropers slaan gewoonlik toe as dit volmaan is. Miskien het hulle gewag vir die reën wat hulle voetspore sou wegwas.”
Die saak word tans ondersoek en Cronk wil graag die department van Natuurbewaring bedank vir die vinnige uitreik van permitte om die oorblywende renosters van die plaas te verwyder.
“Dit is nie die hartseer werd nie, ons wil graag renosters hier aanhou want die voortbestaan van die spesie lê ons na aan die hart, maar dit het te gevaarlik geword vir hulle hier en daarom het ons hulle elders hervestig.”
Meer as 440 renosters is reeds hierdie jaar in Suid-Afrika gestroop.
Gerugte bestaan dat stropers tussen R30 000 en R10 000 elk deur sindikate per horing betaal word.
Volgens ‘n berig in National Geographic verkoop sindikate dan die horing teen ‘n prys wat dubbel die van goud en self duurder as kokaïne per gram is.
Organisasies soos die Suid-Afrikaanse Jag-en Wildbewaringsvereninging (SAJWV) glo vas dat die wettiging van die handel in renosterhoring al uitweg is om die stelselmatige uitroei van dié spesie stop te sit.
0 Comments