-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
“Die lyn is getrek,” so het Kaptein Johan Grundlingh lede van die landelike veiligheidsvergadering wat verlede Donderdag in Lephalale vergader het verseker.
Grundlingh is aan die begin van Oktober aangestel as sigbaarheids polisiëringsbevelvoerder in Lephalale. Hy sê dat hy die stasie wil omdraai deur dit so moeilik as moontlik vir misdadigers in die dorp te maak. Daar is by Donderdag se vergadering bevestig dat Lephalale se misdaadsyfers van die hoogste in Limpopo is.
Grundlingh skryf dit toe aan ‘n groot tekort aan mannekrag. “Vier jaar gelede was daar tussen 15 en 20 000 mense in Lephalale, vandag is daar meer as 150 000 mense wat hier woon en ons moet met minder personeel klaarkom as toe.
Grundlingh is ook bekommerd oor die gemeenskap se onbetrokkenheid. “Baie van die huisinbrake gebeur helder oordag. Mense kyk nie meer na mekaar se goed nie, hulle kyk eerder weg.”
Die Kaptein is ook baie gesteld op dissipline in die polisiemag en daar is volgens Andries Bester van Molalatau Sekuriteit reeds ‘n merkbare verskil by die stasie te bespeur.
Volgens Grundlingh is die grootste uitdagings in Lephalale dronkbestuur, huisbraak, diefstal uit motorvoertuie en diefstal van veral motorfietse.
Hy meen ook dat daar selfs nog nouer saam met sekuriteitsmaatskappye in die dorp gewerk moet word. “Hierdie maatskappye is baie belangrik as dit by misdaadvoorkoming kom.”
Grundlingh het in Lephalale grootgeword en was 16 jaar gelede nog ‘n lid van Lephalale se polisiemag, daarna is hy aangestel as stasiebevelvoerder by Rankinpas. “Ek het huis toe gekom en wil graag hier ‘n verskil maak.”
0 Comments