-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
NG Moedergemeente hou reeds vir jare al sy Liggiefees in die aanloop tot Kersfees, met “Christus is die lig vir die wêreld” as tema. Die gedagte het by ‘n lidmaat, Amy van Deventer, ontstaan toe sy ‘n paar jaar gelede die visie gekry het om die ligging van die kerk in die middel van die dorp te gebruik om ‘n boodskap uit te dra. Sedertdien word daar wyd buite die dorp van die “Liggiekerk” gepraat.
Hierdie jaar word die liggies Sondagaand 18 November aangeskakel, om saam te val met die gemeente se Kerssangdiens om 18:30. Almal word hartlik tot die diens uitgenooi. Die liggies sal aangeskakel bly tot na Kersfees. Mense is welkom om saans die kerktuin te kom besoek en selfs ‘n piekniekmandjie saam te bring.
As deel van die feesvieringe tree Du Preez Stolz, gospelsanger vanaf Bloemfontein, Vrydagaand 30 November om 19:00 in die kerk op. Omdat die bedoeling nie is om ‘n inkomste vir die gemeente uit die liggiefees te genereer nie, is toegang gratis. Om sy koste te help dek, word ‘n padkafee egter dieselfde aand vanaf 16:30 gehou waar mense voor die vertoning kan kom smul aan kerrie en rys en reuse hamburgers. Aan die einde van die vertoning sal daar ‘n vrywillige deurkollekte opgeneem word. Die opbrengs sal gebruik word om liggies, wat maar nie baie lank hou nie, te vervang en uit te brei.
Na die vertoning sal koffie en tee beskikbaar wees. Du Preez sal hiertydens ook van sy CD’s te koop aanbied. As u hom eers hoor sing het, sal u beslis daarvan wil bekom.
- Deur Corinus du Toit
0 Comments