-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Dit is byna drie weke sedert die predikantsgesin van die Gereformeerde Kerk Magol se huis op 23 Oktober in ‘n brand vernietig is. Ds. Hendrik de Beer, sy vrou Fransa en hulle dogters Franciska en Nandri, het alles in die brand verloor, maar hulle geloof en die Lephalale-gemeenskap dra hulle dag vir dag. Noordelike Nuus se Monique Claassen het met hulle gesels om te hoor hoe dit gaan.
“Ja, ’n mens kan omtrent sê ons is deur vuur gelouter,” vertel Fransa , ‘n onderwyseres by Hoërskool Ellisras. “Die gemeenskap, die Hoërskool en die Gereformeerde Kerk Magol was oneindig goed vir ons. Bekendes en selfs mense wat ons nie eens ken nie, het swart besmeer van die roet, probeer om ons besittings uit die vlamme te red. Dis inderdaad wat ons deur hierdie beproewing gedra het: ons naaste se barmhartigheid!
Wat het julle eerste gegryp? Ek het eerste aan ons graad tien dogter, Nandri, wat alleen in die huis was en geslaap het, se veiligheid gedink. Franciska wat in matriek is was besig om Rekeningkunde te skryf toe dit gebeur het, ek het haar matriekboeke gegryp. Nandri het haar selfoon en polshorlosie wat op die bedkassie gelê het gevat met die idee om hulp te ontbied. Hendrik en so baie gewillige helpers het sy studeerkamer gered. Sy versameling boeke van soveel generasies sou ons nooit weer bymekaar kon kry nie.
Waar bly julle nou? Die eerste paar dae was ons op Dries en Ronèl Cronjé se wildsplaas. Maar oor praktiese redes bly ons in die week in ‘n woonstel op Zelda en Leon Joubert se erf. Tot ons bull terriers is welkom daar!
Wat neem julle saam uit hierdie ondervinding? Die Here se genade is oneindig, die lewe is kosbaar en naasteliefde is werklik lewendig teenwoordig. Mens noem maklik ‘n nuwe blyplek “huis” as jou geliefdes daar is. Waardeer mekaar, neem niks vanselfsprekend aan nie. Dis soos Ds Jaco Putter van Potties gesê het: Dis ‘n verlies, maar nie ‘n tragedie nie!"
0 Comments