-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Met die R15 000 skenking wat die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF) in Mokopane onlangs van Mogalakwena Platinum ontvang het asook ‘n R1000 skenking deur ‘n annonieme individu, gaan die organisasie hierdie Kersfees vir 40 behoeftige gesinne in die Mogalakwena munisipale area Kersfees kospakkies skenk.
“Ons kon met die R16 000 genoeg kos koop om 45 pakkies met kruideniersware en vleis op te maak vir mense hierdie feesgety. Vyf van hierdie pakke gaan aan vrywilligers wat hier by die Vrouefederasie uithelp ten spyte van hul eie behoeftes en tekorte,” vertel Carike Lessing van die Vrouefederasie.
“Die ander 40 word uitgedeel onder gesinne waar ons ‘n werklike behoefte geïdentifiseer het. ‘n Groot deel van die 20 swart gesinne wat kerspakke gaan ontvang is byvoorbeeld huishoudings waar almal weeskinders is en ouer kinders na hul jonger boeties en sussies omsien,” sê sy.
Die SAVF werk nou saam met die Mokopane Noodforum en kerke om behoeftige mense te identifiseer en by te staan.
Die organisasie se eerste doel is altyd om mense weer op die been te kry so ‘n groot deel van die bystand wat hulle bied is om mense te help werk soek. Daarom word hulp net op ‘n drie-maande grondslag verleed waartydens daar dan werksgeleenthede gevind word.
Op Vrydae gee die Vrouefederasie kos vir hawelose mense, dan staan daar dikwels rye behoeftiges voor die kantore in Ruiterweg.
Indien u kan help met bydraes of wil betrokke raak, kontak die SAVF Mokopane by 015 491 3149.
0 Comments