<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Dorp Span saam vir Eurika

 
Dr Mahem Mahabeer hou ‘n wakende ogie oor Eurika minute voordat sy per helikopter na Montana Hospitaal in Pretoria geneem is.
News : 17 Jan 2013 374 Viewed By Valerie Cilliers 0

"Sy is een van die dapperste kinders wat ek nog ooit teegekom het,” so vertel ‘n steeds emosionele Ronel Dickinson, stasie bevelvoerder by Tom Burke oor Eurika Burger (11), die enigste oorlewende van ‘n gru-ongeluk, verlede Vrydag op O.R Thambo-rylaan in Lephalale.
Dickinson, wat eerste op die toneel was, sê dat sy aanvanklik verby gery het, maar toe met ‘n skok besef het dat daar mense in die motor is. “Ek het gedink dit is ‘n ongelukstoneel wat reeds ontruim is, maar toe ek die ma aan die passasierskant sien het ek besef die ongeluk het nou net gebeur en ek moet help.”
Dickinson vertel dat Eurika baie deurmekaar was en nie geweet het waar sy is nie. Haar pa Claude (50), wat die motor bestuur het, was nog by sy bewussyn en het gesê dat hy geweldig pyn het. “Ambulanspersoneel was gou op die toneel en ons het albei probeer rustig hou. Ek kan nou nog haar verskrikte oë voor my sien, my hart het vir haar gebreek veral omdat ons almal besef het dat haar ma reeds dood is. Ek wil byvoeg dat ek verstom was oor hoe lede van die publiek op die toneel gehelp het waar hulle kon.”
Dit het nooddienste meer as ‘n uur geneem om Eurika uit die wrak te sny waarna sy en Claude na Ellisras Hopitaal oorgeplaas is.
Claude is 18:05 Vrydagaand weens inwendige beserings in die hospitaal oorlede en volgens Dr Gerhard Kritzinger wil dit voorkom of sy longe platgeval het. Hy vertel dat Pastoor Attie van Wyk by hom was en vir hom kon bid.
Mariaan Wiid, wat Eurika goed ken, het van die ongeluk te hore gekom en haar dadelik in dié staatshospitaal besoek. Dit het gou duidelik geword dat sy nie die nodige behandeling daar sou kon kry nie en omdat die familie nie aan ‘n mediese fonds behoort nie, het sy ‘n noodkreet na die gemeenskap uitgestuur vir fondse om haar na Marapong Kliniek oor te plaas.
Later is bepaal dat die frakture wat sy opgedoen het aan haar bobeen, knie en sleutelbeen slegs deur ortopediese operasies herstel sou kon word. ER24 het die Rooikruis gekontak wat dadelik gretig was om te help. ‘n Helikopter van Air Mercy Services (AMS) is ingespan om haar na Pretoria te vlieg waar sy Saterdagmiddag in Montana Hospitaal opgeneem is.
Sy is intussen bygestaan deur maatskaplikke werker, Petro van der Walt, wat saam met Pastoor Attie van Wyk, Saterdagoggend haar moes meedeel dat albei haar ouers dood is.
Beide Wiid en LSS se Theuns Piek het Maandag aan Noordelike Nuus gesê dat hulle baie beïndruk was met die AMS span.
“Hulle het haar soos ‘n prinses behandel en ons het sommer geweet sy is in goeie hande.
...volg van bl. 1

“Toe daardie helikopter opstyg was ons almal in trane, verlig dat sy die nodige mediese sorg sal kry.” Die vlieënier was Johan Stone en die dokter wat haar tydens die vlug gemonitor het was Dr. Mahem Mahabeer.
“Dit is ongelooflik hoe die gemeenskap betrokke geraak het,” vertel Wiid. “Mense wat haar nie eers ken nie het pakkies by die hospitaal kom aflaai. Besighede soos Shape Shifters, Spar, Pep@Home en Spur het skenkings gemaak. In Pretoria het spesialiste, ‘n tandarts en die trauma-berader hulle dienste aangebied. Die deposito van sowat R50 000 vir die hospitaal is binne ure deur mense van Ellisras ingesamel en ‘n trustrekening is vir haar geskep. Daar is so baie mense wat gehelp het, ek dink byvoorbeeld aan Vleis Nortjé en Angie Maré wat haar op die toneel behandel het. ER24 het wondere verig en uiteindelik die Rooikruis betrokke gekry. Daar is net te veel om op te noem.” vertel Wiid.
‘n Facebook-blad “Gebede vir Eurika” word ook vir haar behartig deur Charmain Robbertse, Wilma van Niekerk, Nicolette Meyers, Mariaan Wiid en Marietjie Kritzinger. Teen druktyd was daar amper 2 000 vriende wat boodskappies vir haar laat.
Wat die pad vorentoe betref was daar vroeg die week nog nie sekerheid nie. Dr. Kritzinger het wel aan Noordelike Nuus gesê dat Lephalale reg is om haar terug te ontvang. “Sy sal fisioterapie by Hannelie Cronjé kry en maatskaplike dienste in die dorp sal haar ook bystaan. Dit is egter nog nie duidelik waar sy sal woon nie, ons sal wel met haar familie vergader om dit uit te klaar.”
Dr. Kritzinger wil ook Ellisras Hospitaal bedank dat hulle hom toegelaat het om Eurika daar te behandel. “Ek is so trots om deel te wees van hierdie gemeenskap, daar het wonderwerke gebeur om hierdie kind te help en mense het hul harte wawyd oopgemaak vir haar.”
Eurika se ouers word Saterdag 9:30 vanuit die PPK lighuis begrawe.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube