<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Mynplanne hang in die lug

 
News : 28 Jan 2013 166 Viewed By Jasper Raats 0

Daar gaan nog baie water in die Nyl afloop voor Sylvania Platinum voortgaan met sy mynplanne op die plaas Volspruit so 15km suid van Mokopane. Hoewel Sylvania reeds in die middel van verlede jaar by die Departement van Minerale Hulpbronee (DMH) aansoek gedoen het vir ‘n lisensie om ‘n oopgroefmyn hier te vestig, verduidelik dié maatskappy se Albert Jordaan dat daar nog baie verdere omgewings impakstudies gedoen moet word alvorens so ‘n lisensie uitgereik sal word.
Sylvania en die omgewingskonsultant wat hy aangestel het om die omgewingsimpakstudie vir die beplande Volspruit myn te behartig, EScience Associates, het die afgelope maand kwaai deurgeloop onder kritiek van belangegroepe wat meen EScience wou die openbare deelnameproses stoomroller oor Desembermaand terwyl baie geaffekteerde partye weg was met vakansie.
Jordaan verduidelik dat hierdie stappe genoodsaak is omdat die DMH die maatskappy slegs 180 dae vanaf indiening van ‘n lisensieaansoek toelaat om dit te rugsteun met ‘n omgewingsimpakstudie. “Ons is eerste om te erken dat daar nog baie werk gedoen moet word alvorens ons kan droom van myn. Huidiglik spandeer Sylvania geen geld of ennergie aan enige mynaktiwiteite op hierdie projek nie. Ons hele fokus is om die omgewingsimpakstudie so volledig en omvattend moontlik af te handel,” sê hy.
Vir belangegroepe wat mynbouaktiwiteite in die Nyl vloedvlakte teenstaan is dit goeie nuus. Emile Honiball van die Nyl Aksiegroep het hierdie week sy kommer uitgespreek dat die DMH ‘n mynlisensie sal uitreik ten spyte van die risiko’s en gebrekkige inligting wat uitgewys is deur verskeie spesialiste wat aan die impakstudie deelgeneem het.
“Ons is klaar agterdogtig oor die manier waarop EScience die openbare deelname proses hanteer het, veral die laaste vergadering vir die jaar wat sommer op 7 Desember ingeprop is wetend dat baie van die geaffekteerde partye dan reeds met vakansie vertrek.
Maar Jordaan verseker dat die beplande Volspruit myn soos dit nou daar uitsien, hoegenaamd nie ‘n uitgemaakte saak is nie. “In hierdie stadium kyk ons nie eens na mynontwerp nie, eers wanneer ons al die inligting het sal ons teruggaan na die tekenbord.”
Hy het onder andere genoem dat die maatskappy die sogenaamde Noordelike Put van die onmiddelike planne sal skrap as daar gevind word dat dit nie suksesvol gemyn kan word sonder om die Nyl Vloedvlakte se ekologie en spesifiek bo en ondergrondse waterbronne te ruineer nie.
“Van ons studies het reeds gewys dat die platina neerslae in die gebied van die beplande Suidelike Put van ryker gehalte is as wat ons aanvanklik gedink het. Dit kan die hele prentjie omkeer, maar ons sal hierdie antwoorde eers hê wanneer ons al die inligting tot ons beskikking het.”
Hy meen daar is geen kans van enige mynaktiwiteite binne die volgende twee jaar nie.
“As ons die platina onder die Nyl se vloedvlakte kon uitskuif en elders myn sou ons.”
Die plan wat tans nog op die tafel is behels die bou van ‘n oopgroef myn in die vloedvlakte van die Nyl met ‘n kleiwal en ‘n sementgordyn wat in swakplekke in die grond ingepomp word om te keer dat water van die Nylrivier of ondergrondse water by die oopgroef inkom.
Navorsers wat aan die omgewingsimpak-studie deelgeneem het spekuleer dat ‘n dun kleilaag die bo-grondse water van die ondergrondse watertafel skei, maar almal is dit eens dat hierdie teorie nog baie navorsing gaan verg om te bevestig.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube