-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Lephalale bars behoorlik uit sy nate met al die ontwikkeling in en rondom die dorp. Tog kla die inwoners gereeld oor die tekort aan vermaak vir die hele gesin. Riverfront Entertainment beloof om hierdie gaping gemaklik te vul en Ellisrassers iets meer te bied.
Eienaars Jaco en Annalize Gous het twee jaar terug van Witbank na Lephalale verhuis om by die Medupi Kragstasie ontwikkeling te kom werk.
Jaco, ‘n deeltydse pastoor, voel sterk daaroor om mense van hulp te wees en berading te bied. Saam met Annalize het hy gevoel hy wil graag ‘n plekkie daar stel waar die hele gesin – oud en jonk – saam tyd kan spandeer. “En so, na baie gebede, word ons twee-jaar plan toe sommer binne drie maande, ‘n werklikheid.”
Riverfront Entertainment sal uiteindelik beskik oor ‘n ‘paintball’ baan, vierwielmotorsfietse vir kinders onder 12 jaar (met ‘n baan) asook ‘n vierwielmotorfietsbaan vir volwassenes, ‘n springkasteel, twee wipmatte (trampolines), ‘n vlooimark, ‘n putt-putt baan (18 putjies) en ‘n kiosk. Hulle hoop om binne die volgende drie maande alles te voltooi – die amptelike opening sal in Maart plaasvind.
Verder word daar ‘n rustige piekniekarea beplan naby aan die rivier wat ook braaiers en gras-afdakke sal hê om seker te maak almal braai heerlik en bly uit die Lephalale-son uit! Alhoewel alles nog nie voltooi is nie, het Riverfront Entertainment reeds sy deure oopgemaak vir die nuuskieriges wat solank wil kom inloer. Riverfront Entertainment is geleë in Fouriestraat, agter Wianko Pale en die GPS Hotel.
0 Comments