<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Kovsie rektor besoek Piet Pot

 
News : 01 Feb 2013 220 Viewed By NoordNuus reporter 0

Rektor en Vise-kanselier van die Universiteit van die Vrystaat, Professor Jonathan Jansen het verlede Vrydag by Hoërskool Piet Potgieter besoek afgelê.  Die besoek het gespruit uit ‘n oproep vroeër die jaar waartydens Prof. Jansen spesiaal geskakel het om Piet Potgieter se hoof, Jas Hansen, geluk te wens met die kwaliteit leerders wat Hoërskool Piet Potgieter na die Universiteit van die Vrystaat stuur. Hy het slegs vir ‘n dag na Limpopo gevlieg en het Hoërskool Piet Potgieter en Mitchell House in Polokwane besoek waar hy leerders en personeel toegespreek het.
Prof Jansen het die Piet Potgeieter gehoor heeltemal onkant gevang toe hy sy toespraak begin het deur agter die klavier te gaan sit en die skool met ‘n overture te vermaak. Sy hele toespraak was onkonvensioneel en hy het die leerders, ouers en onderwysers telkemale laat skater. Hy het begin deur te vertel hoe streng sy Calvinistiese ouers, Sarah en Abraham Janasen was. Hy is nie eens toegelaat om sy matriekafskeid by te woon nie. Hy het dadelik gesê as dit nie vir sy ouers se streng opvoeding en die waardesisteem waarmee hy grootgemaak is, was nie, sou hy nie vandag gewees het waar hy is nie.
Prof. Jansen het aan die leerders gesê dat daar talle beurse beskikbaar is vir leerders, maar dit beklemtoon dat leerders dan moet presteer. Aninka Jansen van Rensburg, hoofmeisie van Hoërskool Piet Potgieter 2012, het so pas ‘n rektorsbeurs daar verwerf nadat sy 8 onderskeidings in haar matriekeksamen behaal het. Hy het gesê dat geen leerder tevrede mag wees met 30% of selfs 40% nie en uitgevaar teen die regering wat sulke lae prestasies aanmoedig deur die slaagsyfer so laag te maak.
Prof. Jansen het talle lewenswaarhede op ‘n baie speelse manier aan die leerders oorgedra. Hy het by voorbeeld vir die seuns gewaarsku dat seks voor die huwelik taboe is en vir die dogters gesê dat vroeë swangerskap, drome vernietig.
Sy uurlange toespraak het verby gevlieg en die gehoor het met entoesiasme die saal verlaat, waarna Prof. Jansen ‘n  Wildepruimboom gaan  plant het.  Die boom wat prof. Jansen geplant het, staan langs die Boerboon wat dr. Piet Bredenkamp (Direkteur van Onderwys) in 1990 geplant het.
Die graaf wat gebruik is om die bome te plant is dieselfde graaf waarmee die eerste sooie gespit is toe Hoërskool Piet Potgieter in April 1945 gebou is.
Prof.  Jansen is vergesel deur mnr. Rudi Buys (Studentedekaan).  Die besoek sal definitief deur almal teenwoordig onthou word en sommige leerders het agterna genoem dat hul dit nou vir die eerste keer oorweeg om ook na ’n universiteit te gaan.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube