-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Medupi kragstasie bouterrein buite Lephalale was hierdie week steeds gesluit weens stakende werkers wat ongelukkig is oor bonusse wat hulle sê hulle nie in Desember ontvang het nie.
Verskeie vergaderings is hierdie week tussen verteenwoordigers van stakende werkers en die projek se bestuur gehou. Gerugte dat kontrakteurs gevra is om weens veiligheidsredes saam met hulle families die dorp te verlaat kon teen druktyd nie bevestig word nie.
Cosatu het ook hierdie week tot die woordestryd toegetree en in ‘n verklaring gesê hulle is bekommerd oor die bevoegdheid van Eskom se bestuur.
Volgens die verklaring moes werkers Desember sonder beloofde bonusse en selfs salarisse klaarkom.
Die vakbond beweer ook dat werkers aangehits word met die doel om die projek te vertraag om topbestuurders se sakke te verryk.
Beide Eskom se woordvoerder, Hillary Joffe en die projekbestuurder, Roman Crookes, was hierdie week nie beskikbaar vir kommentaar nie.
Joffe het wel Dinsdag op “The Money Show” van Talk Radio 702 gesê dat Eskom bekommerd is dat die stakings moontlik tot vertragings op die projek kan lei.
Die staking wat reeds meer as twee weke duur kan verhoed dat Medupi se eerste eenheid soos beplan teen die einde van die jaar krag lewer.
0 Comments