<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

‘Werkloosheid en misdaad ons voorland’ sê landbou unies

 
News : 08 Feb 2013 3183 Viewed By NoordNuus reporter 0

Die platteland gaan kreun onder die juk van werkloosheid en misdaad. Dit was die onomwonde boodskap van georganiseerde landbou in reaksie op die nuwe minimum loon vir plaaswerkers wat hierdie week deur arbeidsminister, Mildred Oliphant, aangekondig is.
Tydens loononderhandelinge in die aanloop tot die nuwe sektorale vasstelling vir landbou het landbouorganisasies saamgestem dat boere sal kan oorleef as die minimumloon met 15% na R80 per dag verhoog word, maar die arbeidsminister het hierdie week aangekondig dat die minimumloon vir plaaswerkers vanaf Maart R105 per dag sal wees.
Dagblaaie het teen Woensdag berig dat duisende plaaswerkers in Limpopo reeds kennis gekry het dat boere nie meer van hul dienste gebruik sal kan maak nie.
“Ons sal met ander oë na ons arbeidsmag moet begin kyk. In plaas daarvan om hierdie hoë loon op ongeletterde arbeid met lae produktiwiteit te spandeer, raak dit tyd om die aanwending van Afrikaanse jeugdiges uit plakkerskampe in Pretoria te oorweeg.
“Oordeelkundige selektering en opleiding mag deure oopmaak vir ‘n nuwe formaat arbeidsmag wat die meganisasie op ons plase sal komplimenteer met baie beter produktiwiteit as dit waarmee ons tans moet klaarkom,” het TLU SA Noord se Stephen Hoffman in ‘n persverklaring gesê.

Op nasionale vlak het die TLU SA se president, Louis Meintjies, dié week gespekuleer dat die Minister moontlik bepaalde perke oorskry het met haar beslissing.
“Daar was ’n reeds ooreengekome sektorale vasstelling wat geldig was vir drie jaar. TLU SA is van mening dat, behalwe vir geweld en intimidasie, daar sedert die vasstelling verlede jaar niks wesenlik verander het nie,” het hy in ‘n verklaring gesê.
Agri SA se Johannes Möller sê Agri SA is gefrustreerd dat goeie navorsingsinligting wat aangedui het dat ‘n loonvlak van R104 per dag grootliks onbekostigbaar is, misken is deur die verhoging. “Dit is aanduidend dat populêre aandrang op hoër lone groter gewig gedra het as die implikasies daarvan op die volhoubaarheid van die bedryf, insluitend sy vermoë om werksgeleenthede in stand te hou,” het hy gesê.
Die implikasie van hierdie loonaanpassing in ‘n bedryf waar boere prysnemers en nie prysmakers is nie, veral in internasionale konteks, is nie bevorderlik vir vertroue, vir belegging en die instandhouding van die bedryf se bydrae tot voedselsekerheid nie waarsku Möller.
“Dit moet ook bevraagteken word teen die agtergrond van die Nasionale Ontwikkelingsplan – wat onlangs deur die regerende party as sy verwysingsbron vir beleid aanvaar is – waarin die verwagting geskep is dat landbou teen 2030 ‘n addisionele 1-miljoen werksgeleenthede gaan skep.”
Daarteenoor berig Agri SA se adjunkpresident, Theo de Jager, dat daar hierdie week reeds meer as 750 werkers net in die Letsitele-omgewing afgedank is.
Möller waarsku dat afleggings tot meer armoede in groter informele nedersettings lei met gepaardgaande sosio-maatskaplike vraagstukke en misdaad waaraan landelike gemeenskappe reeds uitermate blootgestel is. Agri SA het ‘n beroep op boere gedoen om versigtig te besin voor mense afgedank word.
TLU SA het intussen sy regspan opdrag gegee om alle opsies te ondersoek ten einde die aangekondigde minimumlone te wysig.
“Ter wille van stabiliteit in die landbou, die belang van beide werknemers en werkgewers, asook volhoubaarheid en voedselsekerheid, word ’n dringende beroep op die Minister van Arbeid gedoen om die inwerkingstelling van die minimumlone op ys te stel,” sê dié organisasie.
Die TLU SA adviseer boere om tot tyd en wyl alle kwessies opgelos is, hulle lone tot R80 per dag aan te pas.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube