-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Die Professionele jagtersvereniging van Suid Afrika (PHASA) het Limpopo premier, Cassel Mathale se opmerking dat die provinsie se multimiljoenrand-jagbedryf beskerm moet word verwelkom. Mathale het verlede Donderdag tydens die opening van die Limpopo-wetgewer gesê daar word voldoende vordering gemaak in die transformasie van die beroepsjasgbedryf in Limpopo. Hy meen die bedryf moet uitgebrei word sodat swart beroepsjagters en werklose mense in Limpopo voordeel daaruit kan trek.
Mathale sê sy administrasie sal voortbou op verlede jaar se suksesse in transformasie. Phasa se hoof uitvoerende beampte, Adri Kitshoff, het die week aan Noordelike Nuus gesê die premier se opmerking gee in 'n groot mate erkenning aan wat die organisasie se lede die afgelope klompie jare in Limpopo vermag het.
“Daar is byvoorbeeld die afgelope vyf jaar ‘n R5000 heffing betaal op elke luiperdpermit wat in die provinsie aan ‘n jaguitruster uigereik is. Al daardie geld is aangewend om voorheen benadeelde individue in die bedryf op te lei,” sê sy.
Sy noem ook dat Limpopo se professionele jagters hulle verlede jaar daarop toegelê het om dié provinsie as Afrika se voorkeur jagbestemming te vestig. “Die Suid-Afrikaanse jagbedryf staar tans etlike uitdagings in die gesig. Baie van ons buurlande is besig om hulself aggressief te bemark in die buiteland en die kompetisie vir die handjie vol internasionale jagters wat nog safaris kan onderneem ondanks die taai wêreldekonomie raak al hoe strawwer.”
Kitshoff sê dit is dus bemoedigend dat ‘n provinsiale leier besef hoe waardevol die bedryf is en dat dit opgepas moet word. Sy maan egter dat die regering moet besef dat die waarde van die bedryf oor meer as transformasie gaan, maar dat jag ‘n belangrike ekonomies aandrywer is, veral op die platteland.
“Elke buitelandse jagter wat nie hierheen kom nie, kos ons geld en werksgeleenthede,” sê sy en verduidelik dat daar 14 werksgeleenthede in Suid-Afrika geskep word vir elke buitelander wat hier kom jag.
Sy sê dit is dikwels makliker om werkskepping en transformasie in die ondersteunende bedrywe tot die jagbedryf teweeg te bring as om nuwe beroepsjagters te vestig. “Om beroepsjagters op te lei is maklik genoeg en om konsessies aan hulle beskikbaar te maak ook, maar die geld kom van buitelanders af en dit is moeilik vir enigiemand om die bedryf te betree en ‘n kliëntebasis op te bou ongeag van ras of taal. Beroepsjagters wat suksesvol is, is suksesvol omdat hulle jarelange verhoudigne en vriendskapsbande met hulle kliënte opgebou het. Nuwelinge gaan dit moeilik vind om van daardie kliente oor te neem,” waarsku sy.
0 Comments