-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
Hoewel ‘n goeie reënbui die afgelope tyd oor Mokopane uitgesak het, het dit vir min boere in die omgewing verligting gebring.
Die boere is dit eens dat die reën net oor enkele dele uitsak en nie vir almal beskore is nie. Johan Pont van die Sterkfontein-omgewing sê hy raak skoon jaloers oor die reën wat kol-kol uitsak. “Dit is maar ‘n beproewing. Van Februarie tot nou het ek skaars 15 mm gehad, terwyl die boere 8km van my af die laaste week 70 mm reën gehad het.”
Die boere tussen Blinkwater en Potgietersrus het ‘n lekker bui gekry Sowat 40 mm is in die omgewing gemeet. Hoewel dit ‘n verligting is, is dit steeds maar baie droog en ly die boere groot skade, se Pieter Boshoff, voorsitter van die die Nyl Boerevereniging.
Ockert Scherman, voorsitter van die Elders Boerevereniging sê net ‘n bietjie reën het in dié omgewing uitgesak. “Die gesaaides kry swaar. Baie sonneblomme se koppe het al gedraai en daar is baie wat reeds dood is. Al kom die reën nou, is dit te laat.”
Volgends Dewald Eksteen van Naboomspruit was net enkele boere in sy omgewing gelukkig om ‘n paar millimeter te kry. “ Die afgelope twee weke het ek net sowat 15 mm reën gehad. ‘n Mens kan maar net hoop dat die reën meer wydverspreid sal voorkom.”
Daar was geen reën naby sy plaas nie. Dit is veral op Roedtan baie droog en die skade is groot, sê Floris Booysen van die Crecy-omgewing.
Verder noord in die Noordelike Nuus se lesersgebied het die reën ook maar kollerig geval. Christie Thomass berig uit Tolwe dat dit daar nog droog is terwyl Hanno van Rensburg uit Baltimore laat weet het dat daar die naweek 95mm reën uitgesak het. Hy sê al die pannetjies in die omgewing is vol en boere sien nou sommer kans vir die winter.
Roelof Scheepers van Marnitz sê hulle het darem 15mm reën gemeet vir die naweek terwyl boere in die Marken-omgewing ook kla dat die reën daar maar kollerig geval het. CF Ackermann sê hy het tussen 35-60mm op sy plaas gemeet.
Uit Swartwater, het die reënwolke belowend saamgedrom, maar nie ‘n druppel het Laerskool Unitas se jaarlike Tassiefees se program omvergewerp nie, vertel Anlea de Bruin.
In Lephalale het party dele goed reën gekry met dorpsinwoners wat syfers van om en by 30mm gerapporteer het, maar Steenbokpan en Thabazimbi se kant toe is net 9mm gemeet,
0 Comments