-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
‘n Lekker bord kos is vir baie bejaarde inwoners van Mokopane en die omgewing ‘n luukse wat hul nie aldag kan bekostig nie.
Bejaardes kan nie meer met hul karige pensioen, waarmee hulle ook hul verblyf moet betaal, oorleef nie. Dus raak die nood al hoe groter en kan die bejaardes dikwels nie wag vir die bord kos wat die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes aan hulle voorsien nie, sê Estelle Hartzenberg, bestuurder van die sentrum.
Een van die belangrikste fokuspunte van die dienssentrum is die verskaffing van etes aan bejaardes vir slegs R9 ‘n bord kos. Dit is hartverskeurend om te sien dat daar van die bejaardes is wat noodgedwonge ‘n bord kos moet deel, omdat hulle bloot nie geld het vir twee borde kos nie. "Baie mense kan nie meer winkel toe gaan of vir hulself kos kook nie. Dit is vir hulle wat die dienssentrum ‘n belangrike rol speel," sê Hartzenberg.
Juis om hierdie rede loods die komitee van die Kierieklapper Kunstefees vanjaar die projek, Op Ons Bord. Die dienssentrum het die inwoners van Mokopane en omgewing se ondersteuning nodig om die ete-diens aan ons bejaardes te kan lewer. “Ons kan nie kos uit ons bejaardes se mond neem nie, aangesien selfs die R9 vir ‘n bord kos, vir sommige bejaardes te veel is”, sê die voorsitter van die Kierieklapper Kunstefees, Johan Kirchner.
Vir ‘n skamele R2 500 kan instansies of individue, ‘n bord kos vir ‘n bejaarde vir ‘n hele jaar lank borg. Individue kan ook ‘n bejaarde vir ‘n maand borg, vir slegs R180.
Hartzenberg sê van die bejaardes sit elke dag en wag vir hul bord kos – maar dit gaan baie keer ook oor meer as net ‘n bord kos. Hulle gesels land en sand oor alles wat gebeur het sedert die vorige dag se aflewerings. Hul probleme, die nuutste skindernuus en die kleinkinders is alles deel van die gesprek.
Belangstellendes van die Op Ons Bord- projek word versoek om die Potgietersrus Dienssentrum vir Bejaardes te kontak by 015 491 3129.
Dit kos nie altyd die wêreld se geld om goed te doen vir ander nie – kom maak ‘n verskil!
Besighede kan ‘n bydrae maak deur bloot in die Noordelike Nuus te adverteer. Praat met ons bemarkers om uit te vind hoe jou besigheid ‘n maand lank vir ‘n pensioenaris ‘n bord kos kan borg deur bloot by ons te adverteer.
0 Comments