<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Dwelmverslawing – ouers desperaat opsoek na hulp

 
News : 15 Mar 2013 2127 Viewed By Valerie Cilliers 0

Middelafhanklikheid en dwelmmisbruik is al vir jare ‘n probleem in platterlandse dorpe soos Mokopane en Lephalale, maar dit wil nou voorkom of die probleem nie meer onder die mat gevee kan word nie.
‘n Ondersteuningsgroep vir middelafhanklikheid is onlangs gestig deur ouers van kinders in Lephalale wat dwelms gebruik. “Ons het gesoek vir ‘n ondersteuningsgroep waarby ons kon aansluit, maar kon niks kry nie. Daarom het ons besluit om self so ‘n groep te stig,” vertel ‘n ouer.
Die groep kom elke Dinsdagaand 19:00 by die NG kerk Ellisras-Wes bymekaar en word deur Ds. Jannie Hamman gefasiliteer. Ds. Hamman sê die groep spruit voort uit ‘n behoefte vir nasorg vir mense wat rehabiliteer van verslawing en hulle gesinne wat dikwels erg deur die probleem geraak word.
Nie net kinders
Hoe groot is die probleem? Volgens Petro van der Walt, ‘n maatskapplike werker wat by verskeie skole betrokke is, is daar nie tans statistieke beskikbaar nie.
“In die laerskole is daar sover ons weet nie kinders wat van middele afhanklik is nie. Ons vind egter dat al hoe meer kinders ons daarvan bewus maak dat hulle ouers dwelms gebruik. Ouers besef nie dat hulle voorbeeld daartoe kan lei dat die kinders uiteindelik self aan dwelms verslaaf raak nie.”
Van der Walt vertel dat hulle wel bewus is van leerders in die hoërskole wat dwelms gebruik en dat die getalle beslis toeneem. Tog sê sy dat strenger maatreëls by een van die Hoërskole wat leerders verhoed om tydens skoolure die skoolgronde te verlaat grootendeels die probleem hokslaan.
“Ons het in die verlede gevind dat handelaars skoolkinders buite die skoolterein teiken,” vertel sy.
Lucille du Toit ‘n gemeenskapswerker wat verbonde is aan Bravo Jeug meen ook die probleem is aan die toeneem, maar dat al hoe meer mense en veral ouers besef dat hulle hulp nodig het om die situasie te hanteer.
“In die verlede het mense probeer om hul kind se verslawing weg te steek en dit in gesinsverband te hanteer.”

Kerk gryp in
Die Nederduitsch Hervormde kerk Onverwacht het ook besluit om pro-aktief op te tree en het Sondag aan Danie Steenkamp van die Steenbokpan Sentrum van Hoop ‘n spreekbeurt gegee om veral ouers toe te spreek.
Ds. Coenraad Strydom sê dwelmisbruik is inderdaad ‘n reuse probleem en hy moedig persone wat hulp nodig het aan hom hom te kontak by coenstrydom@hotmail.com of tel:
014 763 4994.
Steenkamp het tydens die diens gewaarsku dat ouers nie hulle kinders se maats moet probeer wees nie.
“Sê nee, al maak dit jou onpopulêr, weet waar jou kind is en moet nie geld in hulle hande bly stop nie. Laat jou kind werk vir sy sakgeld en laat hy die gevolge dra van sy aksies. As hy die kar stamp laat hy betaal vir die herstel daarvan. As hy in die moeilikheid kom by die polisie, laat hy die gevolge daarvan dra.”
Steenkamp sê ook dat ouers bedag moet wees op gemoedsveranderinge, leuens en geld of items wat uit die huis verdwyn.
Vir ouers met kinders wat reeds die huis verlaat het is dit egter moeiliker omdat so ‘n kind self besluite moet neem.
“As jy weet dat jou kind dwelms gebruik moet nie vir hom geld gee nie. Gee soveel moontlik liefde maar moet hom nie in staat stel om aan te gaan met sy gewoontes nie.”
Steenkamp sê die Steenbokpan Sentrum van Hoop glo daaraan om die wortel van die probleem aan te spreek.
“Ons rehabilitasieprogram strek oor agt maande en dit behels die aanleer van basiese lewensvaardighede en christelike waardes. Die leering is Chrisuts-gefundeerd en streef daarna om die wortel agter die dwelmprobleem aan te spreek en nie net op die simptome te fokus nie.”
Vir meer inligting skakel die sentrum by 014 766 0046.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube