<-- Twitter Summary card images must be at least 120x120px -->
 
 

Geen lisensies vir spaza winkel eienaars

 
News : 27 Mar 2013 544 Viewed By Valerie Cilliers 0

Eienaars van ongelisensieerde spaza-winkels in Lephalale word erge boetes opgelê ondanks versoeke aan die Lephalale munisipaliteit om lisensies aan hulle uit te reik.
Die provinsiale polisie het verlede jaar opdrag gegee dat alle spaza-winkels wat ongelisensieerd is, gesluit moet word. In Lephalale is verskeie eienaars van dié tipe ondernemings egter ongelukkig omdat strukture binne die Lephalale munisipaliteit nog nie in plek is om lisensies uit te reik nie.
Volgens Astrid Basson, DA raadslid, wat die saak namens die eienaars ondersoek, is die munisipale wette daarvoor reeds goedgekeur, maar moet die publieke deelname proses eers voltooi word voordat lisensie uitgereik kan word.
Intussen word eienaars met R500 - R1000 beboet ten spyte daarvan dat hulle maande reeds probeer om ‘n lisensie te bekom.
Een van die eienaars, Christa van der
Westhuizen wat ‘n spaza-winkel vanuit haar erf in Peter Mokabastraat bedryf, sê daar is eers vir haar gesê sy het nie besigheidsregte of ‘n lisensie nodig nie. 
“Ek het ‘n karavaan gekoop en die winkeltjie oopgemaak. So kon ek iemand in diens neem wat nou vir haar familie kan sorg. Daar koop ook baie kinders by ons wat andersins 1,8km na die naaste winkel moet loop om brood of melk te koop.”
Meer as 50 klante het reeds ‘n versoekskrif onderteken om te vra dat die Ladybug
Tuckshop oopbly, maar Christa moes haar deure sluit nadat sy reeds met meer as R1500 beboet is.
“Ek stem saam dat ongelisensieerde ondernemings gesluit moet word, maar dit is tans onmoontlik om in Lephalale ‘n lisensie te kry.” Intussen het die Gemeenskaps-polisiëringsforum onderneem om ‘n brief aan die provinsiale kommissaris te skryf om amnestie vir spaza-winkeleienaars in Lephalale te vra.

 

 

 
 

 

0 Comments

To leave a comment you need to login / register first
 
 
 
 

Facebook Twitter Youtube